Tiener skiet glo sibbe, toe homself

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook / Alaska State Troopers)

ʼn 15-jarige seun van Alaska in die VSA het vermoedelik drie van sy sibbe doodgeskiet voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.

Luidens internasionale berigte is die skietery, wat by ʼn huis noord van Fairbanks plaasgevind het, Dinsdag net voor 16:20 by die polisie in Alaska aangemeld.

Beamptes van die Alaska State Troopers wat na die toneel ontbied is, het die liggame van vier kinders by dié huis aangetref. Hulle was onderskeidelik vyf, agt, 15 en 17 jaar oud. Nog drie sibbe, almal onder sewe, is ongedeerd in die huis gevind.

Volgens die polisie het die 15-jarige seun vermoedelik drie van sy sibbe en toe homself geskiet, berig The Associated Press.

Die ouers was glo nie tuis toe die tragiese gebeure ontvou het nie.

Tim DeSpain, woordvoerder van die Alaska State Troopers, sê die ondersoek na die voorval duur voort. Die motief is in dié stadium onduidelik.

DeSpain het aan Anchorage Daily News gesê die vuurwapen wat gebruik is, was ʼn “familievuurwapen”. Hy het egter nie gesê hoe die seun toegang tot die vuurwapen gekry het of waar dit gebêre was nie.

Die kinders se liggame is intussen na die staatslykshuis vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur. Die kantoor vir kinderbeskermingsdienste is ook van die voorval in kennis gestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Vier kinders in een gesin wat verloor word , is erg. Arme ouers. Al was hul dalks nalatig , is dit ‘n groot verlies.

Truth2bfree ·

Wys jou maar net, jy kan sit in heel mooiste dorp in wereld….

Johan ·

Die media masjien se ratte rol weer teen die vuurwapen eienaars. Is diè nou werklik wêreldwyd nuuswaardig…natuurlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.