Tiener sterf in haai-aanval in Aus

Mani Hart-Deville. Foto: Instagram

ʼn 15-jarige seun is dood toe hy Saterdag deur ʼn haai aangeval is terwyl hy branderplank gery het noord van Sydney in die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis.

Dit is die tweede noodlottige haai-aanval in Australië die afgelope week en minstens die vyfde noodlottige haai-aanval vanjaar.

Volgens die polisie het Mani Hart-Deville in die see by Wooli-strand naby Grafton, sowat 600 km noord van Sydney, branderplank gery toe hy aangeval is. Hy het erge beserings aan sy bene opgedoen en is deur ander branderplankryers na die strand gehelp waar hy ondanks pogings om hom by te kry aan sy beserings beswyk het.

Jim Simmons, burgemeester van Clarence Valley, die gebied wat Grafton insluit, het gesê daar is talle besoekers in die streek aangesien dit skoolvakansie is. “Dit is skokkend. Ons wil graag ons medelye betuig met die seun se familie.”

Haai-aanvalle is nie ongewoon in Australië nie en eis gemiddeld drie mense per jaar. Daar was egter in 2014 laas vyf noodlottige haai-aanvalle.

ʼn 20-jarige skubaduiker is verlede naweek dood toe hy deur ʼn haai aangeval is in die see by Fraser Island in Queensland. Zachary Robba (23) is in April vanjaar in dieselfde area in ʼn haai-aanval dood.

Die ander twee noodlottige haai-aanvalle het verlede maand en in Januarie plaasgevind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.