Tiener wat by skool losbrand ‘absoluut emosieloos’

Ethan Crumbley het vier leerders by die Oxford High School in Michigan doodgeskiet. (Foto: Oakland County-polisie / AFP)

Die 15-jarige seun wat Dinsdag met ’n semi-outomatiese pistool by ’n hoërskool in Michigan in die VSA losgebrand het, is “absoluut emosieloos” en het skool toe gegaan met die doel om mense dood te maak, het plaaslike owerhede intussen gesê.

’n Vierde leerder van die Oxford High School is intussen dood terwyl sewe mense, onder wie ’n onderwyser, beseer is.

Ethan Crumbley het intussen in die hof verskyn en word as ʼn volwassene van moord en terrorisme aangekla. Staatsaanklaers sê dit is weens die ernstige aard van die misdrywe en die feit dat die aanval vooraf beplan is. Ethan se regsverteenwoordiger het egter aangedui dat hy onskuldig gaan pleit.

Volgens die polisie het Ethan die aand voor die skietery ’n video op sy selfoon opgeneem waarin hy sê dat hy die aanval beplan.

“Die video is nie op sosiale media gelaai nie en daar was dus geen vooraf waarskuwing dat die aanval sou plaasvind nie,” het Oakland County se polisiehoof, Michael Bouchard, gesê.

“Dit is duidelik dat hy bedoel het om mense dood te maak. Hy het op kort afstand geskiet en met tye na die kop of bors gemik.”

Die vuurwapen wat gebruik is, is glo op Swart Vrydag, deur Ethan se pa, James, vir hom gekoop. Ethan het ’n foto van dié wapen op sy Instagram-blad geplaas met die onderskrif “my nuwe pragstuk”.

Ethan het nie ’n vorige rekord van misdrywe of swak gedrag by die skool of die polisie nie, hoewel hy kort voor die skietery by twee geleenthede na die skoolkantoor ingeroep is. Die tweede geleentheid was Dinsdag, die dag van die skietery. Sy ouers is ook op dié dag deur die skool ingeroep.

Dit is egter nie in dié stadium duidelik waaroor die gesprek gegaan het nie.

Ethan is na afloop daarvan terug klas toe, maar het kort daarna badkamer toe gegaan en met die vuurwapen uitgestap.

Ethan het die wapen glo in sy rugsak weggesteek. Die skool het nie soos baie ander skole in die VSA metaalverklikkers by die skool se ingang nie.

Leerders het in klaskamers weggekruip terwyl ander deur vensters gevlug het.

Hy het minstens 30 skote afgevuur en ook sy vuurwapen met ’n nuwe magasyn herlaai terwyl studente gevlug het.

Hy het glo nog 18 patrone oorgehad voordat polisie op hom toegesak en hom gedwing het om oor te gee.

Ethan bly intussen in aanhouding.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

VannieBaai ·

Hoe op dees aarde gee ‘n ouer ‘n vuurwapen aan ‘n 15jarige as ‘n geskenk????? Ek hoop daardie Pa slaap nooit weer rustig nie.

Philip ·

Dit is nie die pa se skuld, ek gaan vir my kinders ook elk n selfverdedigings wapen koop so gou wetlik moontlik

VaalDonkie ·

Ek was 5 toe my pa vir my ‘n windbuks gekoop het. En ek was 12 toe hy vir my ‘n .22 gekoop het.

Lanfear ·

Dit is nogal algemeen in die VSA, hulle word nie verniet gereeld uit getrap vir hulle “gun culture” nie. En nee, die skietery is nie die pa se skuld nie, en ek is seker hy voel aaklig daaroor.

Phillip ·

Ai ai Ouers moet mos ook aangeklae word vir die aankoop van pistool . Hulle is mos indie rek skuldig vir die moorde

Anoniem ·

Dis goed dat hy as ‘n volwassene aangekla word, straf hom asb ook as ‘n volwassene.

ES ·

Ek glo nie Alta, dit is BAIE moeilik om ‘n vuurwapen wettiglik in ons land in die hande te kry. Dis ook nie heeltemal so maklik om ‘n onwettige te kry nie.

Sê maar net ·

Ja, op hierdie selfde dag in hierdie nuusberigte op Maroela. In Suid Afrika. Daar is losgebrand op partytjiegangers. Lees bietjie.

Kenny ·

Ja maar sulke goed gebeur 1 keer ‘n paar maande by ons in SA. In die VSA gebeur dit daagliks.

Antjiepat ·

Eerstens my simpatie aan al die familie en vriende van die skoolkinders en volwassenes wat raak geskiet is en die wat dood is agv die skietery. Tweedens bid ek vir al hierdie skool kinders wat deur hierdie trauma moes gaan om te vlug vir jou lewe en ook te moes toekyk hoe van jou onderwysers en vriende raakgeskiet word.
Dan Pa wat het jy gedink??? ‘n Vuurwapen vir ‘n 15 jarige seun?? En dan seun bid ek vir jou, ek bid dat wat ook al die woede en hartseer veroorsaak in jou lewe, dat jy dit vir Jesus sal kan gee, dat HY jou sal kan heelmaak, want eintlik is jy ook maar nog ‘n blote kind….

Johanna ·

Ek deel jou gebede. Amen dit is al wat ons kan doen is om vir almal betrokke te bid.
As mens self kinders of kleinkinders het, dan is jy stadig om te oordeel en ken die krag vsn gebed.

Swerwer ·

Ek is oortuig daarvan dat dit al hierdie ” geweldadige flieks” op sosiale media is wat die mensdom so beïnvloed, die brein oorspoel, want daar is omtrent niks meer waar daar nie geweld op een of ander manier plaasvind nie.

hondbyt ·

Die moordsyfer in die Middeleeue (honderde jare voor TVs) was 110 per 100 000 mense, en vandag is dit 36 per 100 000 mense…

ES ·

Nee wat, ek en al my vriende (wat in die 80’s en 70’s gebore is) het as kinders gewelddadige flieks gekyk, gewelddadige rekenaarspeletjies gespeel en gewelddadige goed op sosiale media gesien maar geeneen van ons het moordenaars of gewelddadige mense geword nie.

Die probleem is by die individu. Ons almal weet mos wat reg en verkeerd is. Om dit te blameer op die media is waansinnig. Mense wat moor en doodmaak moet een of ander sielkundige afwyking he.

Lanfear ·

Nee stem glad nie saam nie. Soos hondbyt se kommentaar aandui, die moord syfer is laer vandag as wat dit in ouer eeue was.

Ek en my vriende, en my familie en vriende se kinders vandag nog, kyk gewedadige flieks en tv reekse, speel sulke games aanlyn, en sien dit op sosiale media. En nie ‘n enkele een is geweldadig nie.

Dit is maar net ‘n gryp na ‘n sondebok, die kind het duidelik sielkundige probleme.

Pieter ·

Hoekom moet daar altyd na verskonings gesoek word? Laat die moordenaar verantwoording vat.

Toy ·

Hy moet maar boet vir sy wrede daad. Hy het presies geweet dis verkeerd wat hy gaan doen, as hy soos ‘n groot man wil wees moet hy gaan sit in die tronk soos ‘n groot man. Dit is van vroeg ryp vroeg vrot.

Suzette ·

Verskriklik om te dink net 15 jaar oud en alreeds ‘n moordenaar.

Sê maar net ·

Die duiwel is los oral in die wêreld. Jesus het gesê dit gaan so raak. Gebede vir die slagoffers en hul familie. En mag God daai 15jarige moordenaar ook genadig wees. Sy ouers gaan moet antwoorde gee……

Patch ·

Watter tipe ouer koop vir ‘n 15 jarige ‘n vuurwapen??? Die pa moet ook sommer aangekla word.

Willem ·

Vind uit watter soort medisyne vir hierdie kind gevoer is.

wilhelm ·

Wat se ouer is dit wat sy eie seun se onder gang beteken ja dis tragies nes die bybel voorspel in die tye sal gebeur

nikkel ·

Vuurwapen vir ‘n vyftienjarige?
Net bloot nie emosioneel volwasse genoeg om ‘n vuurwapen te besit nie.
Was hy dalk geboelie en sy reaksie daarop uitermatig en wreedaardig geweldadig?
Ek is seker daar moes tekens gewees het van ‘n tikkende tydbom wat nie opgetel of geignoreer was.
Nou is daar ongekende hartseen en pyn van die vermoordes se geliefdes.

JohanR ·

My gooiste die ou se oe is swart swart swart asof daar net geen gevoelens daar agter sit nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.