Die kinderregte-aktiviste Malala Yousafzai (17) van Pakistan en Kailash Satyarthi (60) van Indië het Vrydag gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang.
Die twee word vereer vir hul “stryd teen die onderdrukking van kinders en jong mense en die reg tot onderwys vir alle kinders”.
Yousafzai is twee jaar gelede deur die Taliban in die kop geskiet weens haar veldtog as jong tiener dat meisies ook mag skoolgaan. Ná haar herstel het sy ʼn bekende op wêreldverhoë geword waar sy nie net vir meisies se reg tot onderwys nie gepleit het nie, maar ook vir versoening – ook vir diegene in die Taliban wat haar geskiet het.
Sy is die jongste Nobelpryswenner ooit.
Satyarthi volg in die spore van Mahatma Gandhi en neem leiding by verskeie vreedsame betogings teen die uitbuiting van kinders vir finansiële gewin.
Die verwagting was dat die pous en die Amerikaanse fluitjieblaser, Edward Snowden moontlik die prys sou ontvang.
Klik hier om meer te lees oor Yousafzai en Satyarthi.
Intussen het Patrick Modiano (69) van Frankryk Donderdagaand die Nobelprys vir Letterkunde ontvang.
Modiano se werk fokus op die Nazi-besetting en die invloed daarvan op sy land. Sy boek, Missing Person, het die gesogte Prix Goncourt in 1978 ontvang.
Hy sal sy prysgeld van agt miljoen Sweedse krone (ongeveer R12.4 miljoen) op 10 Desember tydens ʼn toekenningsgeleentheid ontvang.
Klik hier om meer te lees oor Modiano.
Dankie tog dit was nie Snowden nie.