Tieners in hof oor onthoofding van Franse onderwyser

Samuel Paty, die vermoorde onderwyser. (Foto: Twitter)

Die ses tieners wat met die onthoofding van die Franse onderwyser Samuel Paty in 2020 verbind word, sal vandag in die hof in Parys vir die begin van hul verhoor verskyn.

Dit is die eerste van twee verhore in dié saak wat Frankryk destyds geruk het.

Maroela Media het vroeër berig dat Paty in Oktober 2020 in die openbaar in Parys onthoof is nadat hy karikature van die Moslemprofeet Mohammed in ʼn klas gewys het tydens ʼn gesprek oor vryheid van uitdrukking. Elf mense is ná Paty se moord, wat as ʼn Islamitiese terreurdaad bestempel is, in hegtenis geneem.

Die 47-jarige onderwyser is eers gesteek voordat hy naby die skool in Conflans-Sainte-Honorine (ʼn voorstad van Parys) onthoof is waar hy as Geografie-onderwyser gewerk het.

Sy aanvaller, Abdoullakh Anzorov, is op die toneel deur polisiebeamptes doodgeskiet. Anzorov, ʼn 18-jarige Tsjetsjniër wat in Moskou gebore is, het Paty vermoor nadat boodskappe op sosiale media versprei is met foto’s van Paty wat karikature van Mohammed uit die satiriese tydskrif Charlie Hebdo wys.

Die skoolmeisie wie se pa destyds die aanlyn haatveldtog teen Paty van stapel gestuur het, het ná die moord erken dat sy nie eens in die klas was toe Paty die prente gewys het nie. Paty het dié prente gebruik as deel van ’n etiekklas om Franse wetgewing rakende vryheid van spraak te bespreek. Laster is wettig in Frankryk en karikature wat ’n bespotting van geloofsfigure maak, het ’n lang geskiedenis in dié land.

Die skoolmeisie het destyds beweer Paty het Moslemleerders gevra om die klas te verlaat toe hy die tekenprente aan die klas gewys het. Die kind se pa het in die lig van dié bewering ʼn klag teen Paty ingedien en glo die bewerings aanlyn versprei.

Die moord op Paty het gevolg kort nadat Charlie Hebdo die karikature vir ’n tweede keer gepubliseer het. Toe die tydskrif dit vir die eerste keer in 2015 gepubliseer het, het Islamitiese aanvallers die tydskrif se kantoor met vuurwapens bestorm en 12 mense vermoor.

Die tieners wat Maandag verhoor word, word daarvan beskuldig dat hulle aandadig aan Paty se moord was.

Vyf van die tieners is aangekla van sameswering om geweld te pleeg en word daarvan beskuldig dat hulle Paty dopgehou en aan die moordenaar uitgewys het in ruil vir geld. Hulle was onderskeidelik 14 en 15 jaar oud toe die moord gepleeg is.

Die sesde tiener, wat toe maar 13 was, is die meisie wat erken het sy het oor die voorval gejok.

Die Paty-familie se regsverteenwoordigers sê die tieners se rol in Paty se dood is belangrik, aangesien hulle dade volgens die familie tot Paty se dood gelei het.

Die verhoor sal na verwagting tot 8 Desember voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

hpven ·

Europa het dit oor hulself gebring met die invoer van sogenaamde asielsoekers waaronder duisende terroriste! Hulle was en word steeds gewaarsku, maar gaan steeds voort.

Philip ·

Dit is wat geloof aan mense doen, dit stroop mense van alle realiteit en lei tot dade soos hierdie.

Oosieoos ·

Hpven jy is in die kol die hele wereld maak die fout en dit gaan hulle ondergang beteken

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.