Tienerverdagte in Kalifornië-skoolskietery sterf

‘n Ouer, Mirna Herrera, saam met haar dogters, Liliana (15) en Alexandra (16) by die Central Park-gedenkteken vir die slagoffers van Saugus High School in Santa Clarita, Kalifornië (15 November 2019) (Foto: AP Photo/Damian Dovarganes)

ʼn Tiener, wat daarvan beskuldig is dat hy twee skoliere Donderdag in Kalifornië in die VSA doodgeskiet het, het in die hospitaal gesterf.

Aldus die Los Angeles Times en CBS Los Angeles het die sheriff gesê Nathaniel Tennosuke Berhow het Vrydagmiddag aan sy beserings beswyk nadat hy homself in die kop geskiet het. Sy ma was teenwoordig toe hy gesterf het.

Owerhede het gesê Berhow, ʼn leerling aan ʼn hoërskool in Santa Clarita, noord van Los Angeles, het Donderdag, op sy 16de verjaarsdag, omstreeks 07:30 op sy medeskoliere losgebrand.

Berhow se vriende het hom as ʼn stil maar grappige jong man beskryf waarvan almal gehou het. Hy het geen tekens van geweld getoon voor die aanval nie. Ná 40 onderhoude het die polisie nog nie ʼn idee wat die motief was vir die skietery nie, het kapt. Kent Wegener van die Los Angeles-polisie gesê. Hy het geen manifes gehad nie. Daar was ook nie ʼn dagboek of ʼn selfmoordnota nie.

“Dit bly ʼn raaisel,” het Alex Villanueva, sherriff van Los Angeles County, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Dit was duidelik ʼn beplande aanval. Dit was doelbewus, maar ons het nie enige verdere besonderhede nie.”

Gracie Anne Muehlberger (verskaf deur die Muehlberger-familie via AP)

Berhow is die oggend by Saugus High School in Santa Clarita afgelaai. Beeldmateriaal wys hoe hy na die middel van die plein loop, sy rugsak neersit, ʼn vuurwapen te voorskyn bring en begin skiet. Hy het sy patrone getel, het Villanueva bygevoeg. Hy het ses skote afgevuur en die laaste patroon op homself gebruik.

Die aanval het slegs 16 sekondes lank geduur.

“Sover ons kennis strek was die teikens heeltemal lukraak,” het hy bygevoeg.

Gracie Anne Muehlberger (15) en Dominic Blackwell (14) is in die voorval dood. Drie ander skoliere, twee meisies, onderskeidelik 14 en 15 jaar oud, en ʼn 14-jarige seun, is gewond voor Berhow homself geskiet het. Die twee meisies sal oor die naweek uit die hospitaal ontslaan word. Die seun is reeds ontslaan.

Ondersoekbeamptes het by die tiener se huis beslag gelê op verskeie ongelisensieerde vuurwapens. Hulle probeer steeds die oorsprong bepaal van die pistool wat hy in die aanval gebruik het, het die Los Angeles Times Vrydag berig.

Owerhede het gesê daar is nie enige ander verdagte nie en ook nie enige ideologie agter die aanval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stormrider

Hoe kry mens dit nog steeds reg om in Amerika met ‘n vuurwapen op n skoolterrein te kom

John

Net so maklik soos hier. Unesco het jare gelede gewaarsku dat as kultuur onderdruk word dit tot innerlike wroeging ly wat die persoon self nie sal kan verduidelik nie. Dit sou volgens die ondersoek selfs tot moordadigheid aanleiding gee.

Griet

Wys nou maar net, geweld kom OOK VOOR in eersteklas-wereldlande,met hul florende ekonomie+regering+al. Wys ook maar net, dis die ou mensdom self, wat siek is, nie die lande of wapens self nie. Satan hol maar loshande los, oor die aarde heen en saai verwoesting… AI, DIS BAIE TRAGIES, BAIE STERKTE AAN DIE FAMILIES GERAAK HIERDEUR!

HP

Wapen aankoop in die US is so maklik soos bier koop