Tientalle dood ná bomontploffing by moskee

Die ingang van ‘n hospitaal waarheen die beseerdes gehaas is, (Foto: AFP)

Altesame 33 mense, van wie sommige kinders, is Vrydag tydens ’n bomontploffing by ’n moskee in Afghanistan dood. Altesame 43 is beseer.

Dié dodelike bomaanval volg maar ’n dag nadat die Islamitiese Staat (IS) verantwoordelikheid vir twee ander dodelike aanvalle in die stede Kunduz en Mazar-i-Sharif in die noorde van Afghanistan aanvaar het. Meer as 30 mense is toe ook dood.

Die jongste aanval het die een kant van ’n geteikende Soenni-moskee in Kunduz heeltemal in puin gelaat.

“Die toneel by die moskee was afgryslik. Almal wat in die moskee gebid het, is óf beseer óf dood,” het Mohammad Esah, ’n winkelier wat gehelp het om slagoffers na die distrikshospitaal te vervoer, aan AFP gesê.

“Ek het 20 tot 30 liggame gesien,” het ’n ander plaaslike inwoner gesê.

’n Verpleegster het telefonies aan AFP gesê tussen 30 en 40 mense is ná die ontploffing in die hospitaal opgeneem vir behandeling. “Die skrapnelbeserings aan die liggame van die gewondes wys dit is deur ’n bomontploffing veroorsaak,” het ’n dokter op sy beurt gesê.

Die ontploffing is een van die grootste aanvalle sedert die Taliban op 15 Augustus verlede jaar beheer oor Kaboel, hoofstad van Afghanistan, geneem het.

Die aantal bomaanvalle het sedertdien afgeneem, maar die IS het voortgegaan met aanvalle op teikens wat hulle as kettery (dwaalleer) beskou.

Die IS is ’n Soenni-Islamitiese groep soos die Taliban, maar die twee is vurige teenstanders. Die grootste ideologiese verskil tussen die twee is dat die Taliban slegs ’n Afghanistan gesoek het wat vry is van buitelandse magte, terwyl die IS ’n Islamitiese kalifaat wil hê wat strek van Turkye tot Pakistan en verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Laat my dink aan die boere, gaan Sondag kerk toe, dan wag plaasaanvallers hulle in na kerk.
Moes liewer nie kerk of moskee toe gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.