Tientalle dood ná vloede in Indonesië

Die wrakke van motors in Djakarta se strate. (Foto: Achmad Ibrahim, ANA)

Minstens 43 mense is dood en tienduisende dakloos gelaat na moesonreën vandeesweek oor die Indonesiese hoofstad Djakarta uitgesak het.

Dié stad het sedert Oujaarsaand swaar reënval beleef en stygende watervlakke het daartoe gelei dat 182 buurte Woensdag oorstroom het. Grondverskuiwings is in die Bogor- en die Depok-distrik aan die buitewyke van die stad aangemeld, met rivierwalle wat plek-plek meegegee het.

Openbare vervoer is ontwrig en verskeie gebiede is heeltemal van die buitewêreld afgesny.

Luidens plaaslike mediaberigte het die reën Donderdag begin opklaar. Strate is toe onder massas modder en besaai met wrakstukke van voertuie wat deur vloedwater meegesleur is.

Dit is die ergste oorstroming sedert 2013 wat die stad tref. Altesaam 47 mense is destyds weens oorstromings te midde van moesonreën dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae