Tientalle sterf in stormloop in Israel

Nooddienswerkers op die toneel waar tientalle mense tydens ‘n reusestormloop oorlede is (Foto: United Hatzalah, AFP)

Altesame 44 mense is dood en sowat 150 beseer tydens ’n reusestormloop by ’n jaarlikse Joodse pelgrimstog in die noorde van Israel.

Duisende ultra-Ortodokse Jode het Vrydag by die graf van die 2de-eeuse rabbi Shimon Bar Yochai in Meron in Israel vir dié jaarlikse feesviering byeengekom. Die pelgrimstog kon verlede jaar weens die Covid-19-pandemie nie plaasvind nie en Jode van regoor Israel het uitgesien na vanjaar se feesviering.

Die pelgrimstog was die grootste openbare byeenkoms sedert die pandemie uitgebreek het.

Hoewel die polisie bywoning op 10 000 mense vasgestel het, het sowat 30 000 mense eindelik opgedaag.

Volgens Shimon Lavi, polisiebevelvoerder in die noorde van Israel, het die pelgrimstog in ʼn “tragedie” geëindig.

Byna 30 000 Jode het vir dié pelgrimstog opgedaag (Foto: Jalaa Marey, AFP)

Een van die mense wat in die stormloop vasgevang is, vertel die skare mense het tydens die stormloop op mekaar begin val. Talle mense is vertrap en het hul bewussyn verloor.

Die weermag het ook helikopters gestuur om van die beseerde Jode wat tydens die stormloop beseer is, op te tel (Foto: Jalaa Marey, AFP)

Die weermag en nooddienste het helikopters ontplooi om die beseerdes na hospitale in Jerusalem en Tel Aviv te neem. Reddingsdienste het sowat 150 mense behandel. Minstens ses van hulle was in ʼn ernstige toestand.

Magen David Adom, woordvoerder van ’n reddingsdiens wat op die toneel was, sê 38 mense het op die toneel gesterf. Nog ses van die beseerdes het later beswyk.

Nooddienswerkers het boonop gesukkel om toegang tot die stampvol perseel te kry.

Dov Maisel van die United Hatzala-reddingsdiens, sê absolute chaos het geheers terwyl mense probeer vlug en in die proses ander vertrap het.

Lazar Hyman, ’n reddingswerker van dieselfde reddingsdiens, beskryf die voorval as die ergste tragedie wat hy tot dusver in sy loopbaan as reddingswerker gesien het.

Benjamin Netanyahu, die Israelse premier, het die voorval ’n “hewige ramp” bestempel en die beseerdes spoedige herstel toegewens.

Sommige oorlewendes het ná die voorval vir die slagoffers kerse aangesteek en gebid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.