Tientalle walvisse gered na massastranding

(Foto: Patrick Gee/Pool Photo via AP)

Minstens 88 loodswalvisse is gered en daar word gepoog om nog 20 te bevry in die grootste massastranding nog in Australië.

Intussen word daaraan gewerk om meer as 380 walviskarkasse in Tasmanië te verwyder. “Die reddingspanne het op die vierde dag van die reddingsoperasie gesien daar is 20 walvisse wat nog leef,” het Nic Deka, bestuurder van Tasmanië-park en -natuurlewedienste, gesê.

Nagenoeg 500 walvisse is Maandag en Woensdag op ʼn strand en tussen sandbanke naby die afgeleë kusdorp Strahan opgemerk.

Die proses om die walviskarkasse van honderde ton te verwyder begin Vrydag en sal waarskynlik dae neem, het die natuurbioloog Kris Carlyon van die mariene bewaringsprogram gesê.

Dit word onder meer oorweeg om die karkasse te sleep of op vaartuie te laai om dit in die see in te neem en êrens te stort waar dit nie aan wal sal dryf of navigasiegevare kan veroorsaak nie.

(Foto: Patrick Gee/Pool Photo via AP)

Volgens Carlyon werk reddingspanne vir 12 uur aaneen per dag. “Almal is moeg. Die emosionele tol kan beduidend wees.”

Waarom die walvisse gestrand het, bly ’n raaisel. Teorieë sluit in dat die walvisse ʼn siek walvis gevolg het of ’n navigasiefout gemaak het.

Tasmanië is die enigste gedeelte van Australië waar walvisse geneig is om in massas te strand, hoewel die verskynsel soms ook langs die Australiese vasteland voorkom.

Die land se grootste massastranding was in Dunsborough in 1996, toe 320 loodswalvisse gestrand het.

Die jongste voorval is die eerste in Tasmanië sedert 2009 waarby meer as 50 walvisse betrokke is.

In 2017 het meer as 600 loodswalvisse op Nieu-Seeland se Suideiland uitgespoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.