Tier in Parys doodgeskiet

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Tier wat uit ʼn sirkus ontsnap het, is Vrydagmiddag in Parys, Frankryk, doodgeskiet.

Die BBC berig plaaslike polisie het bevestig die tier het ontsnap en die strate van die Franse hoofstad ingevaar, maar is net suid van die Eiffel-toring deur sy sirkushanteerders doodgeskiet. Niemand is deur die 200 kg tier beseer nie.

Volgens mediaberigte is verkeer tydelik ontwrig in die gebied waar die voorval gebeur het. The Guardian berig ʼn tremdiens in die gebied is ook tydelik opgeskort.

Volgens die BBC is die tier met ʼn haelgeweer in ʼn stegie doodgeskiet. Daily Mail beweer die tier is in ʼn treinstasie doodgeskiet. Die eienaar van die tier is deur die polisie ingeneem vir ondervraging en die voorval word ondersoek. ʼn Nadoodse ondersoek sal ook op die tier se karkas gedoen word.

Die tier het uit die Bormann-Moreno-sirkus ontsnap wat onlangs in Parys aangekom het en beplan het om op 3 Desember sy deure te open. Dit is nie duidelik hoe die tier daarin geslaag het om te ontsnap nie.

Verskeie sosialemediagebruikers het hul ontsteltenis uitgespreek dat die tier doodgeskiet is, terwyl diereregteaktiviste aangevoer het die voorval is weer eens ʼn bewys waarom daar nie toegelaat moet word dat diere in sirkusse gebruik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HPV ·

Boikot alle sirkusse wat diere in optredes gebruik. Laat mense kostuums aantrek en dan self die belaglike toertjies soos die diere uitvoer.

M'Lady ·

Skiet, skiet, skiet. Daar word geen alternatiewe gesoek nie. Boikot alle sirkusse wat diere gebruik. Dis n absolute hel vir hulle. Die tier moes nou weer boet vir die mens se onnoselikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.