Tier val motor, plaaswerker in China aan

Siberiese tier by die tierpark in Berlyn (Foto: Agadez – Eie werk via Wikimedia Commons)

Inwoners in die verre noordooste in China is die skrik op die lyf gejaag toe ʼn Siberiese tier ʼn plaaswerker aangeval en ʼn motor beskadig het naby die verafgeleë grens met Rusland.

Die jong mannetjie is Vrydag vir die eerste keer naby aan Linhu in die Heilongjiang-provinsie opgemerk, het die Sjanghai-gebaseerde The Paper berig en plaaslike polisiebeamptes aangehaal.

“Die tier het in die rigting van twee werkers beweeg,” het Wang Xue, wat na die toneel gery het om ʼn familielid op te laai, gesê. “Ek het vir hulle geskree om weg te hardloop, maar die tier het reguit op my afgepyl,” het Wang gesê, aldus Beijing News. “Binne twee of drie sekondes het hy op my en my motor afgestorm.”

Die motor het baie krapmerke opgedoen en die agterste passasiersvenster het gebreek.

“Ek was baie bang. Ek sukkel nog steeds met my hart,” het Wang bygevoeg.

Nie een van die passasiers in die motor is beseer nie.

Beeldmateriaal wys hoe die tier een van die plaaswerkers aangeval het voor hy weggehardloop het. Volgens die berig het die werker geringe beserings opgedoen.

Polisiebeamptes kon uiteindelik die dier voorkeer en hom met ʼn verdowingspyl skiet.

Die Heilongjiang-bosbouburo het Maandag gesê die tier is nou 45 dae lank in kwarantyn by die Hengdaohezi-teelsentrum in Mudanjiang.

Siberiese tiere is inheems aan Rusland en dele van noordoostelike China. Daar is na raming minder as 500 tiere oor weens stropery. Minder as 30 is in China, aldus die staatskoerant Global Times.

Bewaarders in China en Rusland doen moeite om die spesie te beskerm, maar dit is seldsaam dat tiere menslike nedersettings betree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Die werker het ‘geringe beserings opgedoen’ na ‘n tier aanval! Gelukkige hy!
Die tiere word volgens die berig gestroop soos renosters hier. Geen wonder as die diere gaan vir die mense.

Werner ·

Nou moet die tier in kwarantyn wees net omdat hy nie social distancing handhaaf nie dalk beter vir hom

Janee ·

Maar mense mag diere se “nedersettings” betree….dis hoekom daar net 500 oor is….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.