‘Tierstroper’ ná 20 jaar vasgetrek

Argieffoto (Foto: Unsplash)

ʼn Vermeende tierstroper van Bangladesj is Maandag vasgetrek nadat hy glo ongeveer 70 bedreigde Bengaalse tiere gestroop het. Hy was die afgelope 20 jaar ’n gesoekte misdadiger.

Saidur Rahman, die plaaslike polisiehoof, het gesê Habib Talukder (50) – wat die bynaam “Tiger Habib” gekry het – het in die Sunderbans-wortelboomwoud in Bangladesj gewoon en ook in dié streek glo sy jagwerk gedoen.

Die Sunderbans is die tuiste van meer as 100 Bengaalse tiere – wat beskou word as een van die grootste enkele bevolkings van dié soort tier in een gebied.

Talukder het twee dekades gelede begin om heuning van wilde bye in die woud te versamel. Dit is in daardie tyd dat die grootskaalse stroping van Bengaalse tiere ook begin het. Die stroper het polisie egter jare lank ontduik deur te vlug wanneer die polisie op die woud toeslaan.

Talukder het glo die tiere vir hul pelse, beendere en vleis geslag en sou dit dan op die swart mark verkoop.

Mainuddin Khan, ’n plaaslike bosbewaringsbeampte, het gesê Talukder se inhegtenisneming is ʼn groot verligting. “Hy was ’n groot kopseer vir ons. Hy het ’n groot bedreiging vir die woud se biodiversiteit ingehou,” het Khan gesê.

Volgens die departement van bosbou in Bangladesj het die Bengaalse tierbevolking in die woud tussen 2004 en 2015 van 440 tot 106 afgeneem. Die departement het sedertdien by die stropery van die tiere ingegryp en teen 2019 het die bevolking weer op 114 tiere gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.