Tifoon tref Filippyne

Tifoon Kammuri saai vandeesweek verwoesting in die Filippyne. (Foto: Twitter)

Minstens 17 mense is dood, talle beseer en honderde duisende mense is dakloos gelaat nadat ’n tifoon vandeesweek die Filippyne getref het.

Twee mense is in dié stadium as vermis aangemeld. Tifoon Kammuri saai sedert Maandag verwoesting in dié land met sterk wind wat reeds meer as 6 500 huise en ’n lughawe beskadig het. Sommige houthuise is heeltemal in puin gelê.

Volgens die plaaslike polisie sluit die dodetal vier mense in wat in vloedwater verdrink het toe hulle ’n rivier in die oostelike provinsies van Sorsogon, Camarines Sur en Quezon oorgesteek het. Vyf ander is dood toe bome op hulle in die provinsies Oriental Mindoro, Marinduque, Leyte en Quezon geval het.

Twee mans is aan hartaanvalle weens die tifoon dood en ʼn visserman is deur weerlig getref. Een persoon is in Camarines Sur doodgeskok terwyl ʼn ander aan hipotermie in Quezon gesterf het.

Die omstandighede rakende die dood van drie ander slagoffers in Sorsogon, Marinduque en Oos- Mindoro word nog bevestig, het die polisie bygevoeg.

Tifoon Kammuri saai vandeesweek verwoesting in die Filippyne. (Foto: Twitter)

Tifoon Kammuri het daartoe gelei dat nagenoeg 500 000 mense uit hul huise in geaffekteerde gebiede gevlug het, meestal in die oostelike streek van Bicol en omliggende provinsies.

Meer as 520 plaaslike en internasionale vlugte is Dinsdag gekanselleer weens die sluiting van die Ninoy Aquino-internasionale lughawe in Manila wat meer as 150 000 passasiers geraak het, het lugvaartbeamptes gesê.

Tifoon Kammuri het reeds begin stoom verloor en word nou as ʼn tropiese storm geklassifiseer.

Volgens die weerburo ervaar die land tans wind van tot 95 km per uur. Daar word wel verwag dat die storm teen Woensdagaand of Donderdagoggend verby sal wees.

Volgens die weerburo is tifoon Kammuri, wat plaaslik Tisoy genoem word, die 20ste sikloon om die Filippyne vanjaar te tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

magda ·

Sjoe – dit is baie erg vir enige land – 20 keer vir 1 jaar – Baie sterkte aan die mense daar.

Hagar ·

Maroela daar heer tans opspraakwekkende gebeure in die internasionale wereld. Beraad rakende die relevansie van Navo en die Demokrate se aanslae teen die Amerikaanse president. Is julle bewus daarvan. Ons wag in spanning.

Brenda ·

ja , dit was erg , in ons area darem nie so erg soos laas jaar se “ompong” tifoon nie. Gelukkig is voorsorg getref en ons laat weet om kinders Maandag 11 vm by skool te kry en dan geen skool tot more nie. Ons gebede is by die mense in ander areas wat vreeslik swaar getref is. Jy moet die wind en storm beleef om te weet hoe kragtig die tifone is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.