Tiger en Charlie: Aardjie na sy vaartjie

Tiger Woods en sy seun, Charlie. Die jong Woods het reeds verskeie van sy pa se gholfgewoontes aangeleer. (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Tiger Woods het met ʼn breë glimlag weer dié naweek mededingende gholf gespeel nadat hy in Februarie ernstig in ʼn motorongeluk beseer is.

Hy en sy 12-jarige seun Charlie speel saam in ʼn pa-en-seun-toernooi in Florida. Hulle het boonop saam ʼn ronde van 62 houe, tien houe beter as die baansyfer, aangeteken.

Woods het wel later erken die ronde was ʼn fisieke uitdaging. Hy loop steeds mank en dit kon by tye gesien word dat hy steeds pyn het. Die 45-jarige gholfster het ʼn karretjie gebruik om hom tydens spel te vervoer.

“Dit is frustrerend wanneer ek die bal nie so ver slaan as wat ek weet ek kan nie en die houe werk nie uit soos ek dit wil hê nie.”

Hy het aan joernaliste gesê hy het net drie goeie houe geslaan.

“Ek het nie uithouvermoë nie. Ek het nie gespeel nie. Hierdie is my vierde, vyfde ronde vir die hele jaar. Ek het nie enige gholfuithouvermoë nie. Dit is uitputtend, so dit was ʼn stadige dag. As ek hier wil meeding op ʼn toer-vlak moet ek die uithouvermoë terugkry en duisende op duisende balle slaan. Dit vat tyd.”

Woods wou nog nie aandui wanneer hy weer op die PGA-toer gaan speel nie.

Charlie en sy pa het in dieselfde uitrustings gespeel en die jong Woods het reeds verskeie van sy pa se gholfgewoontes aangeleer.

Hulle is drie houe agter Stewart Cink, die Britse Ope-kampioen van 2009, en sy seun Reagan.

Die PNC-kampioenskap oor twee rondes eindig vandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.