Tiger gedagvaar ná hy verhouding beëindig

Tiger Woods en sy vriendin van byna ses jaar, Erica Herman (Foto: Rob Carr/Getty Images/AFP)

Die gholflegende Tiger Woods se liefdesbootjie is weer op die rotse.

Luidens berigte uit Florida het Woods sy vriendin van byna ses jaar, Erica Herman, uit sy spogwoning van meer as $40 miljoen (sowat R740 miljoen) in Jupiter Island geskop.

Herman het haar nou tot die hof gewend om ’n vertroulikheidsooreenkoms wat sy in 2017 geteken het, ter syde te stel. Sy eis ook vergoeding van $30 miljoen (nagenoeg R560 miljoen) van Woods waarop sy volgens haar geregtig is en wil $40 000 kontant (sowat R744 000) terughê wat die gholfster glo uit die huis wat hulle gedeel het, verwyder het.

Die 38-jarige Herman het die vyftienmalige major-kampioen se restaurant The Woods Jupiter bestuur toe hulle in 2017 ’n paartjie geword het.

Herman is ook ongelukkig dat Woods haar nie meer in sy spogwoning wil toelaat nie. Sy beweer dat sy en Woods ’n verblyfsregooreenkoms het en dat sy daarvolgens nog vyf jaar in sy huis kan bly.

Herman beweer in hofstukke dat Woods haar uit die huis gelok het onder die voorwendsel dat hulle vir ’n paar dae na ’n onbekende bestemming sou gaan. Toe hulle by die lughawe aankom, het Woods haar glo meegedeel dat sy nie meer welkom is in sy huis nie en dat hul verhouding verby is.

Dit is onduidelik wanneer dié gebeure plaasgevind het.

Woods en Herman is verlede jaar in Augustus laas as ’n paartjie saamgesien toe hulle die Amerikaanse Ope-tennistoernooi in New York bygewoon het om Serena Williams te ondersteun.

Woods was van 2004 tot 2010 met die Sweedse model Elin Nordegren getroud, maar hul huwelik het geëindig toe tientalle vroue die gholfster van buite-egtelike verhoudings beskuldig het.

Daarna was Woods sowat twee jaar lank in ’n verhouding met die Olimpiese skiër Lindsey Vonn, voordat dié verhouding in 2015 tot ’n einde gekom het te midde van beweringe van ontrouheid.

Woods se agent, Mark Steinberg, wou vandeesweek geen kommentaar op die superster-gholfspeler se jongste probleme lewer nie.

Bronne: Daily Mail, The Guardian, Fox News.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sandra ·

Ja mense, as jy so bekend is, moet jy maar lig loop vir wat agter toe deure gebeur, nê?

Jackie ·

Lyk my Tiger wil nie leer nie. Baie respek vir sy gholf talent maar ai vroumense….

Nici ·

Die man kan homself net nie beheer nie. Hy benodig ‘n chastity belt.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

My groot vriend Killroy wat saam met my diensplig gedoen het, se Pa het altyd gesê voordat ons op pas sou gaan: “Manne, hou jou ding uit gate dan sal jou gat uit dinge uitbly!” Ek dink dis veilig om te sê ou Tiger het nie daai Memo gekry nie.

john ·

Dit is hoekom jy nie jou girlfriend by jou laat intrek nie ,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.