‘Tiger King’: Nog ʼn episode bygevoeg; rolprent glo beplan

Joe Exotic, oftewel Joseph Maldonado-Passage.

Die vervaardigers van die uiters gewilde dokumentêre minireeks Tiger King op Netflix het nog ʼn episode by die speellys gevoeg en intussen is daar sprake van ʼn rolprent wat op die reeks gegrond is.

Tiger King: Murder, Mayhem and Madness het op 20 Maart op Netflix begin wys. Dit het sedertdien wêreldwyd aandag getrek en ʼn basis van aanhangers opgebou en deel van die popkultuur geword. Die minireeks wat uit sewe episodes bestaan, het intussen ʼn agtste episode, getiteld “The Tiger Kind and I”, bygekry.

In dié episode word met die mense wat in die reeks speel, gepraat om hul reaksie op die sukses van die reeks te kry en hul nuutgevonde bekendheid. Intussen is daar sprake van nog reekse en selfs ʼn rolprent.

Die dokumentêre reeks handel oor Joe Exotic, sy tierpretpark en sy vete met Carole Baskin, ʼn diereregte-aktivis en eienaar van die tierskuiling Big Cat Rescue in Tampa, Florida.

Joe Exotic, oftewel Joseph Maldonado-Passage, dien tans 22 jaar tronkstraf uit nadat hy skuldig bevind is vir sy aandeel in ʼn huurmoordpoging op Baskin en weens die dood van talle tiere.

Carole Baskin.

In die reeks word ook gefokus op die verdwyning van Baskin se eksman Don Lewis in 1997. Hy is in 2002 regtens dood verklaar. Joe Exotic hou vol dat Baskin betrokke was by sy verdwyning. Baskin is weer getroud. Die polisie het intussen weer opnuut die saak begin ondersoek sedert die reeks op Netflix begin wys het.

Die reeks is selfs tydens ʼn mediakonferensie in die Withuis bespreek. Dit nadat ʼn verslaggewer vir president Donald Trump gevra het of hy sal oorweeg om Joe Exotic kwyt te skeld. Joe Exotic hou vol dat hy onskuldig is.

Dit het gekom nadat Trump se seun, Donald Trump jr., tydens onderhoude gesê het hy is ʼn groot aanhanger van die reeks. Daar is toe ook melding gemaak van die moontlikheid van ʼn presidensiële kwytskelding.

“Ek sal kyk,” het pres. Trump grappenderwys gesê nadat die verslaggewer hom ingelig het oor die agtergrond van die reeks.

Daar is ook aanlyn petisies begin wat eis dat Joe Exotic kwytgeskeld moet word.

Tiger King is in die eerste tien dae sedert dit op Netflix begin wys het deur meer as 34 miljoen Amerikaners gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.