Tiger na sorgsentrum oorgeplaas ná ongeluk

Verslaggewers drom saam buite die hospitaal in Los Angeles waar Tiger Woods aanvanklik na die ongeluk behandel is. (Foto: Apu Gomes/AFP)

Gholfsuperster Tiger Woods is na ʼn mediese fasiliteit in Los Angeles vir verdere behandeling oorgeplaas.

“Mnr. Woods is oorgeplaas na die Cedars-Sinai- mediese sentrum vir voortgesette ortopediese sorg en herstel,” sê Anish Mahajan, uitvoerende hoof van die hospitaal waarheen Woods aanvanklik ná sy onlangse motorongeluk geneem is.

“Dit was ʼn voorreg om ortopediese traumaversorging aan een van ons geslag se topatlete te voorsien.”

Woods het Dinsdagoggend alleen in ʼn voertuig in ʼn Los Angeles-buurt gery toe sy sportnutsvoertuig die middelman getref, in die aankomende baan beland, teen ʼn boom gebots en verskeie kere gerol het. Die buurt waar die ongeluk gebeur het, is berug vir ongelukke.

Die vyftienmalige major-kampioen het reeds ʼn operasie ondergaan om beduidende ortopediese beserings aan sy laerregterbeen en -enkel te herstel. ʼn Pen is onder meer in Woods se skeenbeen ingevoeg en ʼn kombinasie van skroewe en penne gebruik om sy voet en enkel te stabiliseer.

Mahajan het gesê weens vertroulikheidsredes sal geen verdere inligting bekend gemaak word nie.

Woods se jongste beserings lei tot twyfel oor die gholflegende se vermoë om weer op topvlak mee te ding.

Die ongeluk het net twee maande ná Woods se vyfde rugoperasie plaasgevind.

Volgens die beampte wat eerste op die ongelukstoneel was, was Woods uiters gelukkig om die voorval te oorleef. Die gholfster was kalm, by sy bewussyn en sy spraak duidelik. Hy het homself as “Tiger” geïdentifiseer, het Carlos Gonzalez gesê.

Woods was ook nie onder die invloed van drank of dwelms nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanncb ·

Die ongeluk is nie die “buurt” se skuld nie, maar die bestuurder s’n.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.