Tiger Woods wakker ná motorongeluk

Tiger Woods wen die Meesterstoernooi (14 April 2019) (Foto: AP Photo/David J. Phillip, File)

Tiger Woods (45) herstel goed ná ʼn operasie wat hy moes ondergaan het weens beserings wat hy gister in ʼn motorongeluk opgedoen het. Dié bekende gholfspeler het ernstige beserings aan sy bene opgedoen toe sy motor Dinsdag vroegoggend die pad verlaat en verskeie keer gerol het.

Woods is ná die ongeluk in Harbor-UCLA Medical Center in Kalifornië opgeneem waar hy ’n operasie moes ondergaan om sy regterenkel en -voet te stabiliseer.

“Hy is wakker en herstel goed in sy hospitaalkamer,” sê Anish Mahajan, die mediese hoof van die Harbor-UCLA Medical Center in Kalifornië, in ’n verklaring.

Maroela Media het vroeër berig wetstoepassingsbeamptes was Dinsdag op die ongelukstoneel in die Palos Verdes-omgewing in Los Angeles. Hulle meen Woods is baie gelukkig om die ongeluk te oorleef. Die steil stuk pad waar die ongeluk plaasgevind het, is berug vir motorongelukke.

Volgens Alex Villanueva, polisiehoof van die Los Angeles-distrik, het Woods die sypaadjie getref en in die ruigte beland. Hy sê die motor moes verskeie kere gerol het voordat dit tot stilstand gekom het.

Die ongelukstoneel. (Foto: Patrick T. FALLON/AFP)

Woods se motor is op sy sy in ʼn stuk veld – ʼn ent van die pad af – aangetref. Die motor se enjinkap was erg beskadig.

Carlos Gonzalez, die eerste beampte op die toneel, het gesê Woods was in die wrak vasgekeer. Hy was by sy volle bewussyn en kon homself identifiseer. Hy het gesê sy naam is “Tiger”.

Die polisie en brandweer het meganiese toerusting gebruik om Woods uit die wrak te bevry voordat hy na die hospitaal gehaas is.

Woods was blykbaar nie onder die invloed van dwelms of alkohol tydens die voorval nie, maar daar word wel vermoed dat hy die spoedgrens oorskry het.

Woods is een van die suksesvolste gholfspelers van alle tye en het al 15 groot kampioenskappe gewen.

Hy het onlangs sy vyfde rugoperasie ondergaan en het gesê hy is onseker of hy in April aan die Masters-toernooi sal kan deelneem.

“Namens die PGA-toernooi en ons spelers wil ons sê Tiger is in ons gebede en hy sal ons volle ondersteuning hê tydens sy herstelproses,” het Jay Monahan, kommissaris van die PGA-toer, in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Nou wat soek meneer daai tyd vd nag daar? En ‘n nugter mens jaag nie so in die nag nie. Ek ruik ‘n rot. Hy is bekend vir sy manewales.

Pierre ·

Dit was oggend en hy was oppad na n vergadering. Pasop vir die rot onder jou bed.

Johanncb ·

Hy is teen hierdie tyd bekend vir sy motorongelukke. Hierdie “bekende” sterre kry hopeloos té veel mediadekking. Hulle floreer daarop!

Andre ·

Nie die eerste keer nie die knaap sukkel met kar bestuur of hy het dalk sa taxidrywer sindroom gekry.

Ian ·

Dit was nie nag nie. Ongeveer 0700 die oggend op pad na ‘n demo aanbieding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.