TikTok waarsku ouers oor selfmoordvideo

Argieffoto.

TikTok het gebruikers, veral ouers, gewaarsku oor ʼn selfmoordvideo wat tans as ʼn skermgreep in verskeie video’s op die gewilde sosialemediaplatform verskyn.

Die video het glo Sondagaand die rondte begin doen en die platform stoei sedertdien om die grafiese video te verwyder en al die rekeninge van gebruikers te verbied wat dit weer probeer oplaai.

Die video wys hoe ʼn Amerikaanse man sy eie lewe neem en kom van ʼn regstreekse uitsending op Facebook. Die betrokke video is op verskillende sosialemediaplatforms gelaai. Dit verskyn soms ook as greep in ander video’s wat glad nie daarmee verband hou nie.

“Ons is bewus van die grepe van ʼn selfmoord wat regstreeks op Facebook uitgesaai is en onlangs op ander platforms versprei is,” het TikTok Maandag in ʼn twiet geskryf.

Dié platform, wat bekend is vir sy kort 30 sekonde lange video’s en veral gewild is onder jong mense, het gesê sy stelsel is besig om die grepe outomaties op te spoor en te sensor omdat dit sy gemeenskapsriglyne oortree. TikTok se beleid verbied die plasing en verspreiding van inhoud wat selfmoord vertoon, aanprys, verheerlik of bevorder.

“Ons verwyder inhoud en verbied rekeninge wat herhaaldelik probeer om dieselfde videogrepe op te laai. TikTok waardeer lede van ons gemeenskap wat inhoud rapporteer en ander waarsku teen hierdie soort video’s en die verspreiding daarvan help bekamp uit respek vir die man en sy familie,” het die platform verder gesê.

Soortgelyke video’s het al in die verlede op sosialemediaplatforms soos Facebook en Instagram verskyn, asook die webwerf Reddit. TikTok se video’s verskyn op ʼn hoofblad, bekend as die For You-bladsy, waardeur mense kan blaai om na video’s te kyk en dit maak dit moeiliker om dié soort beeldmateriaal te vermy. Dit verklaar ook waarom die TikTok-gemeenskap ekstra waaksaam is om ander gebruikers teen die video te waarsku.

Waarskuwings het intussen ook op Instagram begin verskyn waar grepe van die video ook gewys het. Op platforms soos Twitter het ouers getwiet oor hul kinders en tieners wat die video raakgeloop het en deur die inhoud getraumatiseerd is.

Facebook het vroeër aan BBC gesê die oorspronklike video is reeds verlede maand van sy platform verwyder, op die dag waarop dit uitgesaai is. Facebook het ook van geoutomatiseerde tegnologie gebruik gemaak om kopieë en die verder verspreiding van die video te voorkom.

“As iemand in ons gemeenskap sukkel met gedagtes oor selfdood, of selfs bekommerd is oor iemand, moedig ons hulle aan om ondersteuning te soek. TikTok bied toegang tot hulplyne direk van ons app en veiligheidsentrum af,” het ʼn woordvoerder van TikTok gesê.

Sosialemediakenners het ouers intussen aangeraai om jong kinders die volgende paar dae van die platform weg te hou totdat al die skermgrepe gevind en verwyder is.

Volgens Kirra Pendergast, uitvoerende hoof van die Australiese kuberveiligheidsverskaffer Safe on Social, word die video tans op TikTok gedeel vermom as ʼn video oor katjies.

“Hopelik besef ouers nou waaraan hul kinders blootgestel kan word as hulle TikTok gebruik. Kinders so jonk as agt maak al video’s vir die platform en nou kan hulle ʼn video van ʼn selfmoord sien terwyl hulle dink hulle gaan iets oor ʼn katjie kyk. Dit is vreesaanjaend,” het Pedergast op Facebook gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Siek wêreld. Waar is die dae toe kinders onskuldig in die veld kon speel…

my opinie ·

Dit is so hartseer. Die hele wereld raak sieker by die dag.

sterk soos n beer ·

ek hoop die persoon word gevang en gearresteer. dis vorm van aanhitsing

isabelle ·

dis n siek wereld en ongelukkig help dit nie kinders word gelos om by die tye aan te pas …SNERT!
Ek persoonlik voel dis slegte ouers wat hul kinders los om op sociale media te boer en dan nog die data ook te verskaf UIT ONDERVINDING het ek al gesien die kinders speel n normale speletjie en volgende oomblik kom n advertensie op wat PORNOGRAFIE bevat JY AS OUMA/tannie/MA of pappa moet nie die data koop want so jonk as 10 het die kinders muisneste en word hierdie kinders se breine besoedel …duiwel is lustig en kinders onskuldig maar ook nuuskierig …kinders is die toekoms EN MET DIE TIPE NONSENS OP FONE sien ek donker dae as ouers nie intree nie

Genis ·

En dis net Donald Trump wat die Tik-Tok gemors uit sy land wil verban.. klomp bollie as jy my vra…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.