Die Amerikaanse departement van handel het Vrydag ’n verbod op die aflaai van die Chinese apps TikTok en WeChat aangekondig.
Dié verbod tree al Sondag in werking en behels dat die aflaai of enige bywerkings van TikTok of WeChat op Amerikaanse mobiele appwinkels vanaf dán in die VSA verbode sal wees en dus nie meer beskikbaar sal wees nie.
Die boodskap-app WeChat sal met onmiddellike inwerkingtreding gesluit word hoewel gebruikers die uiters gewilde video-app TikTok nog tot 12 November sal kan gebruik voordat dit ook heeltemal verban sal word. Dié app sal egter nie ná Sondag afgelaai of opgedateer kan word nie.
Dít volg nadat pres. Donald Trump sy kommer uitgespreek het oor die veiligheidskwessies wat dié apps inhou rakende gebruikers se data.
Trump het in Augustus reeds ’n uitvoerende bevel uitgereik wat TikTok in die VSA vanaf middel vandeesmaand sou verbied tensy dit aan ’n Amerikaanse maatskappy verkoop sou word.
Maroela Media het vroeër berig Oracle sal vermoedelik nou TikTok in die VSA koop nadat Microsoft se aanbod ter elfder ure van die hand gewys is.
Trump het egter nog nie dié kooptransaksie goedgekeur nie, maar sal dit na verwagting voor Sondag hersien.
Sou die koopooreenkoms Trump se goedkeuring wegdra, sal die verbod op TikTok opgehef word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Slim man