Time Magazine se ‘persoon van die jaar’ aangewys

Time Magazine het Woensdag die mees invloedryke persoon van 2017 aangewys. Die tydskrif het dié toekenning gemaak aan die beweging wat bewusmaking wil skep oor seksuele teistering en aanranding, die #MeToo-veldtog op sosiale media.

“Dit is die vinnigste maatskaplike verandering wat ons in dekades gesien het, en dit het met individuele optrede begin deur honderde vroue – en selfs sommige mans, wat na vore gekom het om hul eie stories te vertel,” het hoofredakteur Edward Felsenthal aan NBC News gesê. Hy verwys na hulle as “diegene wat die stilte verbreek”.

Die erkenning kom te midde van ʼn vlaag bewerings van seksuele wangedrag van prominente mans in Amerikaanse politiek, media en vermaak. Talle persone is reeds afgedank en ondersoeke is van stapel gestuur.

Terwyl talle persone hul beskuldigings publiek gemaak het, het ander ook hul eie stories van aanranding en teistering gedeel, gewoonlik op sosialemediaplatforms met die hutsmerk #MeToo.

“Ek sou nooit kon voorsien dat só iets die wêreld kon verander nie, ek wou maar net my gemeenskap verander,” het Tarana Burke, wat die hutsmerk geskep het, aan NBC gesê. “Dis maar net die begin. Dis nie net ʼn oomblik nie, dis ʼn beweging. Nou begin die werk regtig.”

Die Amerikaanse president Donald Trump, wat in 2016 as Time se persoon van die jaar aangewys is, was in die tweede plek, gevolg deur die Chinese president Xi Jinping, het Felsenthal gesê.

Een van die finaliste was Robert Mueller van die Amerikaanse departement van justisie, wat aan die hoof staan van die ondersoek van beweerde inmenging deur Rusland in die verkiesingsveldtog waar Trump as president aangestel is. Noord-Koreaanse president Kim Jong Un, “Wonder Woman”-regisseur Patty Jenkins, en voetbalspeler/aktivis Colin Kaepernick was ook finaliste.

Time wys jaarliks die persoon, groep, ding of idee aan wat die grootste invloed gehad het op gebeure van die afgelope jaar.

-Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.