‘Time’ se Persoon van die Jaar is …

Elon Musk op ‘Time’-tydskrif se voorblad (13 Desember 2021) (Foto: Mark Mahaney/Time/Time Person of the Year/AFP)

Time­-tydskrif het Maandag Tesla-baas en ruimte-entrepreneur Elon Musk as sy Persoon van die Jaar vir 2021 aangekondig. Die tydskrif verwys na sy vergestalting van skuiwe in tegnologie en twyfelagtige neigings wat mense se lewens kan verander.

Die Suid-Afrikaans gebore Musk, wat vroeër vanjaar Amazon-stigter Jeff Bezos verbygesteek het en die wêreld se rykste mens geword het, het ʼn beduidende impak op aarde gemaak met die elektriese motors wat sy Tesla-maatskappy vervaardig en buite ons planeet met sy SpaceX-vuurpyle.

“Musk se opgang strook met groter neigings waarvan hy en sy mede-tegnologie-magnate die oorsaak en deel is,” het Edward Felsenthal, hoofredakteur van Time, geskryf.

Felsenthal verwys ook na “die voortgesette agteruitgang van tradisionele instansies ten gunste van individue; regeringsdisfunksie wat meer mag en aanspreeklikheid oorgee aan ondernemings en gapings van rykdom en geleentheid”.

Time se redakteurs het voorheen gesê die titel word toegeken aan “mense wat ʼn vergestalting is van dit wat belangrik was deur die jaar – goed of sleg”. Pres. Joe Biden en adjunkpres. Kamala Harris het verlede jaar die toekenning gedeel.

Tesla se waarde het in Oktober tot meer as ʼn biljoen (“trillion”) dollar toegeneem en SpaceX het saam met die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa saamgespan om verskeie sendings te loods, insluitend ʼn toetslopie om Aarde teen ʼn asteroïede te beskerm.

Musk (50) se rykdom het tydens die pandemie tot meer as $250 miljard toegeneem, aldus Forbes se intydse miljardêrslys.

Hy het ook omstredenheid veroorsaak met sy uitlokkende Twitter-profiel wat kan aanval, grappe maak en uitlok – insluitend ʼn peiling in November of hy 10% van sy Tesla-aandele moet verkoop.

Volgens Felsenthal gaan Musk se uitlokkende visie gepaard met ʼn persoonlikheid wat “soos ʼn stomp instrument skynbaar genot put uit verdeling en aggressiewe gespottery”, soos wat hy die wêreld “toegang gee tot sy id deur sosiale media”.

Musk het homself die afgelope paar jaar in Amerikaanse kultuur ingegrawe met meer as 66 miljoen volgelinge op Twitter en as mede-gasheer van die bekende laataand komedieprogram Saturday Night Live in Mei.

Hy is ambisieus oor sy planne om Mars te koloniseer en beplan volgende jaar vlugte om die aarde as deel van SpaceX se beplande terugkeer na die maan.

“Die doel oor die algemeen was om die lewe multi-planetêr te maak en die mensdom in staat te stel om ʼn ruimtevarende beskawing te word,” het Musk aan Time gesê in ʼn onderhoud wat vrygestel is met die Persoon van die Jaar-aankondiging.

“SpaceX begin ʼn program om koolsuurgas uit die atmosfeer te haal en dit in vuurpylbrandstof te omskep. Sluit asseblief aan as jy belang stel,” het hy Maandag op Twitter gesê – in ʼn aankondiging wat net soveel aandag trek as wat dit ʼn tekort het aan besonderhede.

Musk staan bekend daarvoor dat hy markte en die waarde van kripto-geldeenhede kan laat skuif met ʼn enkele uitlating op Twitter. Sy hooffokus op Aarde is tans steeds elektriese motors. “Ons doel met Tesla was nog altyd dat dit as ʼn voorbeeld moet dien vir die motorbedryf. Ons hoop dat hulle ook elektriese motors sal maak sodat ons die oorgang na volhoubare energie kan bespoedig,” het hy aan Time gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peach ·

Môre mede Maroelanders, geluk aan Mnr Elon Musk met hierdie besonderse prestasie. Maak my ‘n trotse Suid Afrikaner want ek weet hier is nog baie intellektuele “ongeslypte diamanté”.

A ·

Ek was Time se persoon van die jaar in 2006. So hulle deel hierdie titel vir letterlik enige iemand uit.

Elinette ·

Watter mens, wat van gesonde verstand en normaliteit is, sal op Mars wil gaan woon in letterlike kunsmatige lewenskokonne???

Deon ·

Ek glo dieselfde tipe mens wat donker afrika ingetrek het, n avonturier.

Johan ·

Elon Musk is ń ongewaardeerde held ,ongelukkig woon hy in die verkeerde land. Ek wens hy vat sy goed en trek na Europa. Dàn sal die Biden Demokke kla en steun. Nog beter,kom terug na SA (WesKaap) waar jou ingenieurbrein soos ń vars briesie oor ons sal waai….toe asb!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.