Toe nié ʼn leeuwyfie wat losloop in Berlyn

Skermgreep uit die video.

Die polisie in Duitsland het Vrydag hul soektog na ʼn wilde dier, aanvanklik vermoedelik ʼn leeuwyfie, in die suidelike buitewyke van Berlyn afgelas nadat daar eindelik vasgestel is dat dié wilde dier waarskynlik net ʼn bosvark is.

ʼn Suid-Afrikaner het die Duitse owerhede daarop gewys dat dit nié ʼn leeuwyfie is waarna hul al twee dae lank op soek is nie.

ʼn Groot soektog is Donderdag ná dié wilde dier van stapel gestuur nadat twee mense blykbaar gesien het hoe ʼn leeuwyfie ʼn bosvark in ʼn straat in die suidelike buitewyke van Berlyn agternasit en ʼn kort video op ʼn selfoon daarvan gemaak het.

Die video is aan die polisie verskaf en dié het geglo dit is eg.

Michael Grubert, burgemeester van Kleinmachnow in die suidweste van Berlyn, het egter Vrydag aan verslaggewers gesê dat die soektog sedertdien afgelas is nadat kenners vasgestel het dat die vermoedelike leeuwyfie in die video waarskynlik eerder ʼn dier is wat baie meer algemeen in dié streek voorkom.

“Alles dui daarop dat dit nie ʼn leeuwyfie is nie.”

Volgens Grubert het twee spesialiste “waaronder een van Suid-Afrika” die video nagegaan, die wilde dier in die video vergelyk met foto’s van leeus en merkbare verskille tussen die dier in die video en ʼn leeuwyfie gevind.

“Albei het tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen manier is dat dit ʼn leeu is nie,” sê Martina Bellack, woordvoerder van Kleinmachnow.

Dít volg nadat inwoners in die gebied vir meer as 30 uur aangeraai is om binnenshuis te bly en ʼn oog oor hul troeteldiere te hou.

Meer as 100 polisiebeamptes het Vrydag in die vroeë ure nog die suidelike buitewyke van Berlyn met nagsigbrille en hommeltuie gefynkam in die hoop dat hulle die leeuwyfie sou gewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.