Toe wél ebola in DRK

Dokter voor ʼn ebola-sentrum in Kailahun, Sierra Leone (Augustus 2014) Foto: Sylvain Cherkaoui Cosmos/Dokters Sonder Grense

Dokter voor ʼn ebola-sentrum in Kailahun, Sierra Leone (Augustus 2014) Foto: Sylvain Cherkaoui Cosmos/Dokters Sonder Grense

Die Demokratiese Republiek van die Kongo het bevestig dat ebola ook in dié land uitgebreek het.

Volgens die minister van gesondheid, Felix Numbi, is ebola by twee pasiënte bevestig nadat verskeie mense in die Equateur-provinsie aan simptome wat met dié van ebola ooreenstem, oorlede is.

Numbi het egter gemeld dat die ebola wat nou in die DRK gevind is, van ʼn ander stam as dié in Wes-Afrika blyk te wees. Dit kom in ʼn afgeleë gebied voor, en behoorlike kwaratyn-maatreëls word nou getref.

Vroeër het die Wêreldgesondheidsorganisasie gesê dit is beslis nie ebola nie, terwyl Dokters Sonder Grense daarop gereageer het deur te sê dit is vroegtydig om vaste uitsprake te maak. Die toetse het nou bevestig dat dit wel ebola is, maar omdat dit van ʼn ander stam is, is daar geen verband met die uitbreking in Wes-Afrika nie.

In Wes-Afrika is meer as 1 400 mense reeds aan die siekte oorlede.

Intussen het Japan aangekondig dat dié land ook ʼn eksperimentele teenmiddel ontwikkel het. Dié middel is as griepmedisyne ontwikkel, en daarom is daar genoeg voorraad om duisende mense te behandel. Japan is gereed om dit na die geaffekteerde gebiede te stuur sodra dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie versoek word.

Bronne: BBC, Mail & Guardian, Trouw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.