Toegangsfooi op besige dae in Venesië nou betaalbaar

Venesië se waterkanale en unieke geboue (Foto: Marianne Styan)

Die Italiaanse stad Venesië het Donderdag ʼn nuwe skema ingestel wat behels dat dagbesoekers ʼn fooi moet betaal om toegang tot die geskiedkundige stad te verkry.

Dit is ʼn eerste vir die wêreld, met die doel om die druk te verlig wat toerisme op die stad toepas.

Dagbesoekers aan dié Unesco-wêrelderfenisgebied sal nou ʼn kaartjie van €5,30 (sowat R110) moet koop, met inspekteurs wat by sleuteltoegangspunte sigbaar sal wees.

Venesië word as een van die mooiste stede beskou en is een van die wêreld se toptoeristebestemmings.

Volgens die owerhede verdrink dié stad egter onder die gewig van die skares toeriste.

Volgens Simone Venturini, die plaaslike raadslid verantwoordelik vir die stad se toerisme, is altesaam 10 000 kaartjies reeds verkoop teen die tyd wat die skema Donderdagoggend sy aanvang geneem het.

Die skema is egter in ʼn toetsfase en tree op die 29 besigste dae deur die jaar in werking, meestal oor naweke van Mei en Julie. Dit is vandag (Donderdag) Bevrydingsdag in Italië, wat dit dus ʼn vakansiedag en ʼn besige dag vir toeriste maak.

Daar is geen beperking op die hoeveelheid beskikbare kaartjies nie, en die doel is eerder om dagbesoekers aan te moedig om die stad op stiller tye te besoek.

“Ek dink dit is ʼn goeie ding, want dit sal miskien die toeristesyfers in Venesië laat afneem,” sê Sylvain Pelerin, ʼn Franse toeris wat die stad al vir meer as 50 jaar besoek.

Oornagbesoekers, wat reeds ʼn toeristebelasting betaal, is kwytgeskeld van die dagfooi. Kinders onder 14 jaar oud kry ook gratis toegang.

Nie almal is egter ewe tevrede met die nuwe instelling nie, met sommige inwoners wat beplan om te betoog teen ʼn maatreël wat volgens hulle die basiese reg tot vryheid van beweging stuit.

Die Bridge of Sighs in Venesië. (Foto: Marianne Styan)

“Dit is nie ʼn museum nie. Dit is ʼn beskermde, ekologiese gebied, en jy behoort nie daarvoor te betaal nie, dit is ʼn stad,” sê Marina Dodino van die plaaslike inwonersassosiasie, ARCI, aan AFP.

Volgens Luigi Brugnaro, die burgemeester van Venesië, is die nuwe skema ʼn “eksperiment” wat gemonitor word met “baie sagte kontrole” en “sonder rye”.

Besoekers word aangemoedig om hulle kaartjies vooraf aanlyn aan te koop, maar sal ook ʼn kaartjie by aankoms kan koop.

ʼn Nuwe kaartjiekantoor is opgestel op die plein voor die Santa Lucia-treinstasie, die hooftoegangspunt na die stad.

Inspekteurs sal diegene sonder ʼn kaartjie ʼn boete oplê wat tussen €50 en €300 (sowat R1 000 tot R6 000) kan beloop.

Venesië is versprei oor meer as 100 klein eilande in die noordooste van Italië en is in 1987 tot ʼn wêrelderfenisgebied deur Unesco verklaar.

Die aantal besoekers aan die stad, wat deur die Verenigde Nasies (VN) as ʼn “buitengewone argitektoniese meesterstuk” beskryf word, word wyd as onvolhoubaar beskou.

In piektye oornag sowat 100 000 besoekers gelyktydig in die geskiedkundige stad; dít terwyl die stad slegs 50 000 permanente inwoners het.

Derduisende mense stroom daagliks deur die stad se smal paadjies en daag gereeld op bote op om onder meer die St. Mark’s-plein en die Rialto-brug te besigtig.

“Die doel is om ʼn nuwe balans te vind tussen toerisme en die stad se inwoners,” sê Venturini.

“Ons moet saamwerk om die impak van dag-tot-dag-toerisme op sekere dae, wat ʼn groot bron van druk op die stad is, te verbeter.”

Venesië het reeds in 2021 ʼn verbod opgelê teen massiewe bote wat daagliks duisende dagbesoekers na die stad gebring het en herlei die bote nou na ʼn meer afgeleë, industriële hawe.

Toeriste poseer vir ’n foto op die oorstroomde Sint Markusplein in Venesië in 2018. Kenners het toe al voorspel as die huidige tempo van klimaatsverandering voortduur, kan dié stad reeds teen 2100 heeltemal onder water wees. (Foto: X)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Lekker plek daai. Snaaks om met ‘n taxi boot by die stasie af gelaai te word!

NelNel ·

Goeie plan, maar die lae prys gaan bitter min toeriste stuit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.