Toenemende kommer oor Spele in Tokio

Die Olimpiese ringe naby die nasionale stadion in Tokio. (Foto: Behrouz Mehri/AFP)

Toe die Olimpiese Spele in Tokio verlede jaar uitgestel is, het amptenare beloof dit gaan vanjaar aangebied word as bewys van die mensdom se oorwinning oor die nuwe koronavirus.

Ses maande voor die geskeduleerde aanvang van die Spele lyk vooruitsigte vir ʼn oorwinning oor die virus nog vaag en daar is toenemende vrese dat die Spele nou glad nie gaan plaasvind nie.

In die openbaar hou die organiseerders vol dit gaan voort en sê dit kan veilig gedoen word – selfs al is die virus teen die tyd dat die vlam op 23 Julie aangesteek word, nog nie in bedwang nie.

“Dit is presies omdat ons in hierdie situasie is dat ons die waarde van die Olimpiese Spele moet onthou: Dat die mensdom deur sport vreedsaam kan saamleef,” het Toshiro Muto, uitvoerende hoof van die 2020-Spele, gesê.

Die grootste gedeelte van die wêreld word egter steeds lamgelê deur Covid-19, Tokio verkeer in ʼn noodtoestand en twyfel oor die Spele word al hoe groter.

Keith Mills, die adjunkvoorsitter van die 2012-Spele in Londen, het vandeesweek gesê dit lyk “onwaarskynlik” dat die geleentheid sal voortgaan. Dít terwyl die Britse Olimpiese legende Matthew Pinsent gesê dit sal “belaglik” wees om voort te gaan.

Die lang pad na Tokio se tweede Olimpiese Spele was uit die staanspoor besaai met hindernisse – van bewerings oor bedrog tydens die bodproses, tot vrese oor die somerhitte.

Niks was tot dusver so erg soos die pandemie nie en dit het verlede Maart gelei tot die eerste uitstel – in vredestyd – van die Spele in moderne geskiedenis.

Openbare ontnugtering

In Japan is daar ook toenemende openbare ontnugtering. ʼn Opname het die afgelope maand bevind 80% van deelnemers aan die studie is gekant teen die aanbied van die Spele vanjaar. Hiervan meen 35% van respondente die Spele moet geheel en al gekanselleer word, terwyl 45% glo dit moet weer uitgestel word.

Die Australiese Ope het duidelik gewys hoe moeilik dit is om ʼn internasionale sportgeleentheid te midde van ʼn pandemie aan te bied; daar is groot probleme om spelers na die toernooi te bring en hulle virusvry te hou.

“Dit was ʼn wekroep om in Melbourne te sien en te hoor van al die logistieke uitdagings en hoe om ʼn tennisgeleentheid onder die omstandighede te reël,” het Gordon Reid, ʼn Britse rolstoeltennisspeler en Paralimpiese medaljewenner, gesê.

“Jy moet dit ʼn duisend keer vermenigvuldig wanneer dit by die Olimpiese en Paralimpiese Spele kom omdat dit op ʼn heel ander vlak is.”

Die hoofde van die reëlingskomitee sê dit is “absoluut onmoontlik” om die Spele weer uit te stel, wat beteken dit gaan gekanselleer word as dit nie vanjaar voortgaan nie. Hulle gaan intussen voort met ʼn rits maatreëls om veiligheid te verseker, selfs sonder ʼn entstof wat nie verpligtend vir atlete is nie.

Maatreëls sluit in ʼn verbod op ondersteuners wat juig, gereelde toetse vir atlete en beperkte verblyf in die Olimpiese dorpie.

Veel hang egter nog in die weegskaal, onder meer die besluit of enige toeskouers toegelaat gaan word.

Tyd word min

Die koronavirus het ʼn beduidende geldelike tol geëis en sommige studies het gewys Tokio is die duurste somerspele nóg. Teenvirusmaatreëls en ander vertragings het sowat R41 miljard by die koste gevoeg wat nou na raming sowat R234 miljard beloop.

Pogings om die koste van onder meer verwelkomingseremonies te verminder het tot minimale besparings gelei, hoewel die organiseerders sê al die plaaslike borge is minstens steeds aan boord.

Talle atlete sukkel intussen om te kwalifiseer omdat verskeie byeenkomste nog nie gehou kon word nie. Oefening- en mededingingskedules is ontwrig en veroorsaak groot onsekerheid.

Planne om die fakkel-aflos in Maart te begin is nog op dreef en sosiale afstand sal gehandhaaf word.

Japan hoop van harte hy verloor nie nog ʼn Spele nie – in 1940 is die Somer- en Winterspele weens oorlog gekanselleer.

Intussen loop die uurglas leeg. Japan het nog nie ʼn koronavirus-entstof goedgekeur nie, maar die land hoop om teen laat volgende maand met inentings te begin.

Daar word met gesondheidswerkers en bejaardes begin en luidens berigte sal die res van die bevolking teen Mei entstof begin ontvang, ʼn skamele twee maande voor die Spele na verwagting begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.