Toeris wat foto’s neem deur seekoei doodgebyt

Argieffoto.

ʼn Chinese toeris is die afgelope naweek op ʼn meer in Kenia deur ʼn seekoei doodgebyt.

Dít kom ure nadat ʼn plaaslike visserman volgens die AP-nuusdiens ook in dieselfde omgewing deur ʼn seekoei doodgebyt is.

Die Keniaanse wild-en-natuurdienste (KWS) het op Twitter bevestig dat Chang Ming Chuang (66) Saterdagaand by sy aankoms in die Naivasha-distrikshospitaal dood verklaar is.

Wu Peng Te (62) wat saam met hom was, het die aanval met slegs geringe kneusplekke oorleef en sterk volgens die KWS by die meer se Naivasha Sopa-oord aan nadat hy in dieselfde hospitaal behandel is.

“Ons is besig om die seekoei na te spoor,” het die KWS gesê.

Chuang en Peng Te was besig om foto’s van die natuurlewe op die oewer van die Naivasha-meer te neem toe die voorval gebeur het.

The Star.co.ke berig James Omollo, ʼn ooggetuie, het gesê Chuang het té naby aan die dier gekom en dit het omgedraai en hom aan sy bors gebyt.

David Kilo, die voorsitter van die Naivasha-meer se booteienaarsvereniging, het gesê die styging in damvlakke het bygedra tot die toename in seekoeiaanvalle.

Volgens hom word die seekoeie se weiding verminder namate die damvlakke styg en dwing dit dan die diere om nader aan nabygeleë hotelle en plase te beweeg vir voldoende weiding.

Volgens Independent.co.uk is daar vanjaar al ses mense naby die Naivasha-meer deur seekoeie doodgebyt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ian ·

Tja. Seekoei se kind is nie jou maat nie….

Daai ding is bedrieglik vinning.

Anoniem ·

Nou gaan hulle waarskynlik die seekoei skiet?

Pleks hulle mense eerder waarsku om uit die diere se pad te bly. Hoe moeilik is dit nou? Deur mense se onnoselheid moet diere altyd boet met hulle lewens.

Cherokee ·

Daar’sie ‘n manier om seekoeie uit te ken nie. Almal gaan sê dit was nie hulle nie.

Ellisras ·

Die gevaarlikste dier in Afrika is natuurlik die muskiet. Jy kan nag wegbly van die GROOT 5 maar daai klein een is dodelik.
As al die geld vir VIGS navorsing gegaan het vir malaria navorsing, was Afrika ‘n veiliger plek.

Jurie ·

As n seekoei my in sy water byt is dit mos my probleem maar as hy my in n BAR byt het hy moeilikheid.

Nettie ·

Ja, en nou gaan daardie seekoei sekerlik gejag en “van kant” gemaak word, want – sien, die seekoei was in die MENS se gebied, nie andersom nie.

cor ·

Huh is tot die seekoeie nou al gatvol vir die ooste se aanslag op afrika se groot 5 . Loop lig want die res van die groot vyf mag dalk ook wraak neem . Die die diere is niemand se speelmaat nie bly weg

Laurika ·

Ek dink die diere gesels met mekaar. Mnr Renoster het vir Mnr Seekoei vertel wat die Chinese burgers met hul horings maak…

Nettie ·

@Laurika ………………. ha-ha-ha-!!!!! Lekker lag ekke nou!

En ek is seker daarvan mnr. Olifant het vir mnr. Seekoei ook vertel van wat met hul tande gedoen word en toe kom mnr. Leeu by en vertel hulle albei van wat die Afrikane met hul naels, velle, koppe en pote maak en …………….

Een van die dae doen die “Groot Vyf” vir ons wat die regering nie kan nie …….

Diefie ·

As jy moeilikheid soek gaan jy dit kry. Aangesien almal nou grond eise instel, wat van ons wilde diere? Dis hulle grond wat die mensdom nogsteeds vat!

marous ·

Gooi ‘n honderd of wat in die perlemoen water . Hulle kan dalk meer befoeterd raak as hulle seewier en plastiek moet eet ….

Snip ·

@Cherokee, lekker lag ek nou vir daai een. Wonder watter een gaan hulle agtervolg en in hegtenis neem, aangeklae van moord. Mense gaan soek baie vir hulle eie gevaar en dan word die dier van kant gemaak. Dis so blerrie unfair.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.