Toeriste sien hoe krokodille mens vreet

Argieffoto (Miniformat65, Pixabay)

Argieffoto (Miniformat65, Pixabay)

ʼn Groep toeriste by die Zambezirivier het groot geskrik toe hulle gesien het hoe krokodille ʼn mens vreet.

Trevor Lane, ʼn natuurbewaarder van die Bhejane Trust in Zimbabwe, het Vrydag gesê die krokodille het die “onderste gedeelte van ʼn mens” gevreet. Die slagoffer was vermoedelik ʼn ivoorstroper.

“Die toeriste was op ʼn sonsondergangvaart,” het Lane aan ʼn Sapa-korrespondent gesê. Die toeriste van Engeland het in Februarie by ʼn kamp in die Siansimba-gebied in Zambië gebly. Hulle het op die Zambezirivier, op die grens tussen Zambië en Zimbabwe, gevaar.

Die besoekers en hul toergids het gesien die krokodille vreet iets in die rivier. Toe hulle naderkom, het hulle gesien dit is ʼn man se liggaam.

“Ons vermoed dit was ʼn stroper,” het Lane gesê. Hulle het glo twee dae vantevore ʼn klopjag in die gebied uitgevoer om ʼn groep stropers, wat glo die grens van Zambië oorgesteek het, aan te keer. “Daar was 13 stropers. Een is op die toneel dood. Plaaslike intelligensie het getoon dat slegs nege weer die rivier oorgesteek het. Drie van die persone is nog nie gevind nie. Dit is moontlik dat hy beseer is en toe probeer het om die rivier oor te steek.”

Die toeriste het dadelik die voorval by owerhede in Zambië aangemeld toe hulle van die vaart teruggekeer het, maar beamptes kon later nie enige oorskot op die toneel vind nie.

Die Bhejane Trust is bedrywig in Zimbabwe se Zambezi- en Hwangwe nasionale parke.

Krokodilaanvalle is nie ongewoon in Zimbabwe nie. Volgens plaaslike mediaberigte is drie kinders reeds vanjaar doodgebyt.

Die Manica Post het Vrydag berig ʼn groot krokodil van die Mazonwerivier in Burma Valley in die ooste van Zimbabwe is uiteindelik vandeesweek deur natuurbewaarders doodgeskiet. Volgens die koerant het die krokodil sedert die middel van 2014 reeds 10 persone doodgebyt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Ons moet daardie meneer krokodil invoer na die Kruger Wildtuin toe om te help met die renostermoordenaars. Elegante oplossing as die natuur self die probleem aanpak.

Beervanger ·

Ja ne sowaar Paul… Hoekom voel ek nou nie jammer vir daai “stroper” wat gestroop is nie. HA
Hahaha

Louise ·

Absoluut wonderlik!! Nou hoef ons nie verantwoordelik gehou word vir sy aandete en luxury geriewe wat hul deesdae in die tronke kry as hul gevang word nie! Well done mnr/mev die krokkodil!

ig ·

Kan ons nie n paar invoer en na Nkandla stuur om die brandwater dam te ‘beskerm’ nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.