Toeskouer beplan regstappe teen ‘roekelose’ Nick

’n Toeskouer beplan regstappe teen Nick Kyrgios. Foto: Sebastian BozoN/AFP.

Die wag voor Nick Kyrgios se mond is waarskynlik op ’n sloerstaking wanneer die vurige Aussie ’n tenniswedstryd speel.

Hy is gereeld in woordewisselings met skeidsregters en wedstrydbeamptes betrokke, terwyl Stefanos Tsitsipas hom van boeliegedrag beskuldig het.

Nou het Anna Palus, ’n Poolse toeskouer wat die Grand Slam-eindstryd tussen Kyrgios en Novak Djokovic op Wimbledon bygewoon het, hom van naamskending beskuldig.

“Ek was saam met my ma by die kragmeting en dit is iets waarna ons baie uitgesien het. Deur die loop van die wedstryd het Nick Kyrgios ’n roekelose en heeltemal ongegronde bewering teen my gemaak,” het Palus in haar verklaring gesê.

Oudergewoonte het Kyrgios sy speelgoed gedurende die wedstryd rondgegooi en hy het onder meer ’n bohaai oor die Pool se beweerde wangedrag opgeskop.

Die 27-jarige speler was aanvanklik in die sop oor sy geswetsery; iemand het glo sy aandag afgetrek terwyl hy besig was om af te slaan.

Hy het vir Palus uitgesonder en by Renaud Lichtenstein (skeidsregter) aangedring dat sy uit die stadion geskop moet word.

“Jy [Lichtenstein] wou my nie glo nie en daar doen sy dit nou so wraggies weer. Sy het my amper die pot gekos,” het Kyrgios hoorbaar gekla.

Kyrgios is al deur Stefanos Tsitsipas as ’n boelie uitgekryt. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Toe die skeidsregter aanvoer dat hy nie weet van wie die Australiër praat nie, het Kyrgios gesê dat hy die skuldige kan uitwys.

“Ek weet presies wie dit is. Dit is die een wat lyk of sy omtrent 700 drankies in het.”

’n Rukkie later is die toeskouer uit die stadion begelei.

Hoewel Palus net tydelik verbied is om die aksie te volg, meen sy dat Kyrgios se optrede haar reputasie permanente skade berokken het.

“Mnr. Kyrgios se valse bewering is deur miljoene mense wêreldwyd gesien. Nodeloos om te sê het dit my en my gesin baie skade berokken.”

Sy het intussen bevestig dat sy twee drankies geniet het.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ek – in ’n poging om my naam in ere te herstel – geen ander keuse het as om ’n saak van naamskending teen mnr. Kyrgios aanhangig te maak nie,” het Palus afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Henri ·

Persoonlik dink ek Nick Kyrgios se gedrag is oor die algemeen pateties, maar ek dink die vrou vat ‘n vet kans. Sy het klaar erken sy was onder die invloed van alkohol.

Moedeloos ·

2 dankies is nie onder die invloed nie. As hy nie die skare se gedrag kan hanteer nie behoort hy nie tennis te speel nie.

Piet Snot ·

Die klaer is reg. Die Griek is ʼn boelie en moet die pyn vat wat na sy kant toe kom.

Christo ·

As jy uit deel moet jy ook kan ontvang, speler en toeskouer!

Christine ·

Hahaha, ek vind dit skreeusnaaks! 700 Drankies, die man is ‘n nar en die toeskouer soek net geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.