Toeskouers ook nie by Paralimpiese Spele toegelaat

(Foto: Kazuhiro NOGI/AFP)

Die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) en die Japannese regering het Maandag in ʼn gesamentlike verklaring gesê toeskouers sal ook by vanjaar se Paralimpiese byeenkomste verbied word.

Die Paralimpiese Spele begin op 24 Augustus en sommige spanne het reeds in Japan geland.

Maroela Media het in Julie berig dat toeskouers voor die begin van die Olimpiese Spele by sekere byeenkomste verbied is, ná ʼn toename in Covid-19-gevalle in dié land.

Die IPK het destyds gesê dat ʼn besluit oor die aantal toeskouers by die Paralimpiese Spele eers ná afloop van die Olimpiese Spele geneem sal word, in die hoop dat Covid-19-gevalle in die land dan reeds sal afneem. Die getal daaglikse nuwe infeksies het egter die afgelope paar dae tot meer as 20 000 gevalle gestyg.

ʼn Noodtoestand is reeds in Tokio en vyf ander gebiede in Japan verklaar, wat onder meer alkoholverkope deur kroeë en restaurante verbied en hul openingstye beperk.

“Weens dié omstandighede moet strenger maatreëls ingestel word vir die Paralimpiese Spele, waaronder dat geen toeskouers die byeenkomste mag bywoon nie,” het Andrew Parsons, hoof van die IPK, gesê.

Volgens die IPK se verklaring word ʼn uitsondering gemaak om sommige skoolgroepe wat deel is van ʼn spesiale opvoedkundige program by sekere byeenkomste toe te laat.

Die organiseerders het beklemtoon dat kinders slegs aan dié uitstappies mag deelneem indien die nodige veiligheidsmaatreëls gevolg en toestemming van owerhede en ouers verkry word.

Ondanks ʼn toename in Covid-19-gevalle tydens vanjaar se Olimpiese Spele sê die Japannese regering dat die gevalle nie met die betrokke byeenkomste verbind kan word nie. Sowat 540 koronavirusgevalle is tydens die Olimpiese Spele aangemeld. Die meeste daarvan is onder Japannese atlete, afrigters, medialede en kontrakteurs.

Volgens organiseerders het ʼn verdere drie medialede positief getoets sedert hulle uit Japan vertrek het.

“Hoewel dit bemoedigend is dat die Olimpiese Spele veilig en suksesvol was, moet diegene wat die Paralimpiese Spele bywoon nie oorgerus raak nie,” het Parsons gesê.

Meer as 4 400 atlete sal na verwagting aan die Paralimpiese Spele deelneem. Dié atlete sal nes die Olimpiese atlete daagliks Covid-19-toetse moet ondergaan.

“Ek doen ʼn beroep op elkeen wat by die Paralimpiese Spele betrokke is om waaksaam te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.