Toeskouers taboe by Olimpiese Spele

Die Olimpiese ringe in Tokio. (Foto: Philip Fong/AFP)

Toeskouers sal by meeste van die Olimpiese byeenkomste verbied word, het Japanse owerhede Donderdag aangekondig. Dit is om die verdere verspreiding van Covid-19 te voorkom, nadat ʼn toename in virusgevalle in Tokio opgemerk is.

Dié beperking beteken dat dit die eerste keer is wat die Olimpiese Spele grotendeels agter geslote deure gaan plaasvind.

Seiko Hashimoto, hoof van Tokio se Olimpiese Spele, het gesê geen toeskouers sal in Tokio en drie van die omliggende streke, waar meeste van die byeenkomste gaan plaasvind, toegelaat word nie.

“Reëls sal wissel van streek tot streek, maar ʼn beperkte hoeveelheid toeskouers sal wel by sommige byeenkomste buite dié vier streke toegelaat word.”

Hashimoto, wat self ʼn voormalige Olimpiese atleet is, het die publiek gevra om begrip te hê vir die besluit wat die komitee moes neem.

“Ek is jammer vir diegene wat teleurgesteld is, maar dié verbod was die enigste uitweg om die verspreiding van die virus hok te slaan.”

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOC) het in ʼn gesamentlike verklaring met die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPC) gesê dat hulle die besluit respekteer om almal se veiligheid te verseker.

ʼn Besluit oor toeskouers by vanjaar se Paralimpiese Spele sal egter eers aan die einde van die Olimpiese Spele geneem word.

Japan se eerste minister, Yoshihide Suga, sê hy is hartseer dat hierdie maatreël getref moes word.

“Nietemin raai ons almal aan om die spele in die gerief van hul eie huise te geniet.”

Afgesien van die verbod op toeskouers het Suga ook aangekondig dat ʼn ramptoestand van 12 Julie tot en met 22 Augustus in die hoofstad sal geld. Gedurende hierdie tyd word alkoholverkope grotendeels beperk, restaurante se bedryfsure word verkort en byeenkomste word beperk.

Japan het tot dusver lig afgekom van die Covid-19-pandemie en min mense het tot dusver die virus opgedoen. Sowat 14 900 sterftes is tot dusver in dié land aangeteken. Kritici is egter van mening dat die land se inentingsprogram te stadig op die been gekom het. Ongeveer 15% van die bevolking is tot dusver volledig ingeënt.

Hoewel daar nie vereis word dat atlete ingeënt moet word voor die Spele nie, is sowat 85% van hulle reeds ingeënt. Byna 100% van die personeel is ingeënt.

Olimpiese organiseerders het ook uitgebreide maatreëls aangekondig om die atlete tydens vanjaar se Spele te beskerm. Dit sluit in daaglikse Covid-19-toetse en beperkings op atlete se beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Madeleine

Te erg

Danie

Dit moet moeilik wees om sport en C19 te probeer balanseer om n tipe normaal te laat plaasvind in die vorm van die Spele. Sterke aan Japan en ons is dankbaar dat julle n plan probeer maak en nie net jul skouers op trek nie.

Abraham

wat is belangriker? Olimpiese Spele of mense se gesondheid?