Tokio 2020-medaljes uit herwinde materiaal geskep

Die sowat 5 000 goud, silwer en brons medaljes by vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio is uit herwinde elektroniese toestelle vervaardig. (Foto: Geoffroy van der Hasselt/AFP)

Om met ʼn Olimpiese medalje op die podium te pryk, is een van die grootste oomblikke in ʼn atleet se sportloopbaan.

Vanjaar glimlag Japan sommer twee keer so breed, want medaljes wat tydens die Olimpiese en Paralimpiese Spele uitgedeel word, is ook vir dié land ʼn geleentheid om sy kultuur en sjarme aan die res van die wêreld ten toon te stel.

Die sowat 5 000 goud, silwer en brons medaljes by vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio is uit herwinde elektroniese toestelle vervaardig.

ʼn Medaljeprojek is in 2017 van stapel gestuur en oor ʼn tydperk van twee jaar het die Tokio 2020-medaljeprojek 78 985 ton elektroniese toestelle – waaronder 6,21 miljoen selfone – van regoor Japan versamel om die 5 000 Olimpiese medaljes te vervaardig wat in Tokio toegeken word. Die goud-, silwer- en bronselemente van die toestelle is verkry deur ʼn smeltingsproses waarmee metale uit die toestelle onttrek is.

Volgens die amptelike webwerf van die Tokio-spele is dit die eerste keer in die Olimpiese geskiedenis dat medaljes uit herwinde metaal vervaardig word, en ook die eerste keer dat burgers van die land by die vervaardigingsproses betrokke is.

Die herwinde medaljes is deel van ‘n groter volhoubaarheidspoging van die Spele.

“Ons hoop dat ons projek om klein verbruikerselektronika te herwin en ons pogings om by te dra tot ʼn omgewingsvriendelike, volhoubare samelewing ʼn nalatenskap van die Tokio 2020-spele sal word,” het die organiseerders van Tokio 2020 gesê.

Lees meer oor die Tokio 2020-medaljeprojek en die medaljeontwerp op die Olimpiese Spele se amptelike webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie J ·

Ons ou tweedehandse lewe. Stel jou voor jy wys jou goue medalje vir jou kleinkinders en agterop is die geskrif ‘made in Japan’ .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.