Tokio se regte egte Paw Patrol aan diens!

ʼn Negejarige Yorkshire terriër wag om aan Wan-Wan Patrol deel te neem na ʼn laerskool in Tokio (14 Julie 2021) (Foto: Philip Fong/AFP)

Dis ʼn buurtwag met ʼn verskil: ʼn groep vierpotiges wat moeilikheid kan uitsnuffel en die strate veilig kan hou vir skoolkinders. Hier is die hondjies van Tokio se regte egte Paw Patrol!

Hulle het dalk nie die toerusting en affêrinkies van hul geliefde tekenprent-eweknieë nie, maar die honde van die Wan-Wan (bow-wow) Patrol is ʼn groot gunsteling in Tokio se Karasuyama-woonbuurt.

Yurika Igarashi (12) maak staat op Sakura, ʼn tipe maltese poedel wanneer sy van die skool af op pad huis toe stap. “Soms is ek bang wanneer ek alleen huis toe moet loop, maar ek voel veilig as ek saam met Wan-Wan Patrol loop,” het sy aan AFP gesê, met Sakura op haar skoot.

Sakura is een van 150 hondjies van die Wan-Wan Patrol, ʼn program wat honde en hul eienaars gebruik om daaglikse stappies in ʼn buurtwag te verander. Hulle monitor die kinders, kyk of ʼn inwoner hulp nodig het en help om misdaad af te weer.

Die Karasuyama-program is een van die oudste van dié tipe gemeenskapsinisiatiewe in Japan en is deur ʼn plaaslike polisiebeampte op die been gebring.

“Individuele eienaars gaan stap wanneer hulle kan en al die honde dra dieselfde sakdoek,” sê Keiko Shimizu, leier van die patrollie. Die honde, wat duidelik uitgeken kan word, patrolleer die strate. “Dit beteken dat ons die buurt veiliger kan maak en misdaad kan afweer,” het sy bygevoeg.

Talle van die honde se eienaars is ouers van huidige of voormalige leerlinge aan die plaaslike skool, en ander neem sommer net as inwoners deel aan die buurtwag.

Vyf honde van die Wan-Wan Patrol het onlangs vroegoggend met hul heldergroen sakdoeke om die nek rondgedraf toe hulle kinders na die laerskool vergesel het.

Pa, ʼn 17-jarige Shih tzu, is een van die oudste lede van die patrollie en kan nie meer self loop nie. Maar sy neem trots deel uit die gerief van haar hondewaentjie wat deur haar eienaar gestoot word.

“Die program help ons om mekaar beter te leer ken en beter bure te word,” sê Michiko Takeuchi, eienaar van die maltese poedel-kruising Kojiro, en ma van ʼn plaaslike skolier. “Ek voel sommer veilig.”

Patrollieleier Shimizu het aan AFP gesê een van die honde het onlangs ook op ʼn bejaarde persoon afgekom het wat alleen gesterf het. “Hulle het gesien ʼn lig skyn steeds in die oggend in ʼn kamer. Ons stap elke dag op dieselfde roete op min of meer dieselfde tyd, so dis maklik vir ons om te sien as daar iets ongewoon is.”

Japan staan bekend as een van die veiligste lande met ʼn baie lae koers vir gewelddadige misdade. Maar daar is soms tragedies, soos ʼn ongeluk verlede maand oos van Tokio toe ʼn dronk bestuurder met sy vragmotor in ʼn groep skoliere ingejaag het. Twee kinders het gesterf.

Jun Ameie, skoolhoof van die plaaslike Kyuden-laerskool, het gesê die buurtwag help om ouers en kinders gerus te stel. “Ouers waardeer dat daar so baie mense in die buurt is wat omgee en seker maak die omgewing is veilig – veral in hierdie tye wanneer mens baie berigte hoor van misdade teen kinders. Ek is seker dat die kinders nou sorgeloos buite die skool kan speel en enige plek in die buurt, want hulle weet daar is baie volwassenes wat na hul veiligheid omsien.”

Vir Igarashi is die wollerige hondjies ʼn vertroosting. “Dis natuurlik baie lekker om saam met hulle te loop, maar ek voel ook veilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerinmurgenbeen ·

Dit is ‘n uitstekende voorbeeld, dié gemeenskap sorg dat hulle kinders en buurt veilig bly.
Mag baie ander lande en gemeenskappe die voorbeeld volg.

Sandra ·

Ag wat ‘n oulike storie. Ek is seker daarvan dat die vierpotiges dit ook vreeslik geniet.

Karina ·

Dit is wat ‘n regering vir sy mense doen. Nooit ooit in Suid Afrika nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.