Tony-toekennings in New York uitgedeel

Sir Andrew Lloyd Webber en Bernadette Peters. (Foto: Jenny Anderson / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die Tony-toekennings het Sondag in New York die beste produksies op Broadway vereer, met die musiekblyspel Moulin Rouge! wat skoonskip gemaak het met 10 toekennings.

Die geleentheid het vanjaar ʼn nuwe vorm aangeneem, met die meeste van die toekennings wat uitgedeel is tydens ʼn twee uur lange seremonie wat regstreeks uitgesaai is voor die aanvang van die hoofgeleentheid – ʼn konsert in New York wat die terugkeer van regstreekse teateraanbieding ná ʼn hiatus van 18 maande weens die pandemie gevier het.

“Almal hier is ingeënt en getoets en almal dra ʼn masker – elke Broadway-teater gaan vir ʼn rukkie só lyk en dit is oukei,” het seremoniemeester Leslie Odom Jr. gesê voordat die konsert by die Winter Garden-teater afgeskop het.

Moulin Rouge! The Musical, ʼn verhoogverwerking van die gewilde Baz Luhrmann-fliek van 2001 oor ʼn befaamde Paryse nagklub, het onder meer die toekennings vir beste musiekblyspel, beste akteur en beste akteur in ʼn hoofrol ingeoes en het ook ʼn keur van tegniese vererings ontvang.

Die rolverdelings van Moulin Rouge! en Jagged Little Pill, ʼn musiekblyspel wat geïnspireer is deur Alanis Morissette se gelyknamige album van 1995, het ʼn kleurvolle potpouri van treffers uit dié vertonings in hulle tuisteater uitgevoer.

Adrienne Warren, wat die Tony-toekenning vir beste aktrise in ʼn musiekblyspel gewen het vir haar vertolking van Tina Turner in Tina, het ook ʼn vertoning gelewer.

Die konsert het ook talle klassieke duette uit gewilde musiekblyspele soos Rent, Wicked, Ragtime en Hamilton, deur ʼn rits Broadway A-lysname opgelewer.

The Inheritance het die toekenning vir beste produksie gewen. Dit is ʼn herverbeelding van E.M. Forster se roman, Howards End, en speel af in ʼn hedendaagse New York. Dié produksie het vier toekennings gewen, onder andere vir beste regisseur, Stephan Daldry.

A Soldiers Play, wat ʼn blik op rassisme in die Amerikaanse weermag gee, het die toekenning gewen vir beste herlewing van ʼn produksie. David Alan Grier het ook sy eerste Tony-toekenning vir sy rol in dié produksie gewen.

Die herlewing van A Christmas Carol het ook vyf pryse ingeoes.

‘Broadway is terug’

Kristin Chenoweth en Idina Menzel. (Foto: Theo Wargo/Images for Tony Awards Productions/AFP

Talle produksies het onlangs heropen, met verskeie wat nog in die komende maande sal heropen ná die aanvang van die pandemie.

“Broadway is terug en dit is beter as ooit tevore,” het aktrise Audra McDonald gesê. McDonald spog reeds met ses Tony-toekennings en is vanjaar weer benoem.

Aaron Tveit het die prys vir beste akteur in ʼn musiekblyspel vir Moulin Rouge! ingeoes en al was hy die enigste benoemde, moes hy steeds 60% van die stemme ontvang om te wen.

“Ons is so bevoorreg om op Broadway te kan speel,” het ʼn emosionele Tveit gesê.

Lois Smith het op 90-jarige ouderdom vir die eerste keer ʼn Tony-toekenning gewen vir haar rol in The Inheritance. Sy is die oudste speler ooit wat ʼn Tony-toekenning vir toneelspel gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Gelukkig kan mens nie COVID kry as jy staan vir ‘n foto nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.