Topsakeman val na sy dood

‘n Chinese vlag wapper teen die HNA-groep se kantoor in Beijing (Februarie 2017). Foto: Andy Wong/AP

Die medestigter en voorsitter van die HNA-groep, ʼn Fortune 500-maatskappy, het Dinsdag tydens ʼn sakebesoek aan Provence in die suide van Frankryk na sy dood geval.

BBC berig Wang Jian (57) het in die skilderagtige dorpie Bonnieux op ʼn muurtjie geklim om foto’s te neem toe hy geval het. Paramedici is na die toneel ontbied, maar kon hom nie weer bybring nie. Volgens mediaberigte het ʼn nadoodse ondersoek bevind Wang het aan erge interne bloeding gesterf weens die val.

Die Franse nuuswebtuiste France Bleu berig Wang was deel van ʼn groep van tien toeriste wat die dorpie in die Luberon-gebied besoek het. Hy wou glo ʼn panorama-foto neem met die Cedres-woud agter hom toe die ongeluk gebeur het.

Die mense wat die voorval sien gebeur het, het aan die plaaslike polisie verduidelik dat dit ʼn tragiese ongeluk was.

Die HNA-groep is een van die wêreld se grootste maatskappye met bates in toerisme, finansies en lugvaart. Die groep het in die afgelope paar jaar onder meer belange in die Deutsche Bank en die Hilton-hotelgroep gekoop en het wêreldwyd sowat 400 000 werknemers.

Financial Times berig Wang se dood kom op ʼn tyd wat die HNA-groep deur diep waters gaan nadat die maatskappy se vinnige groei gelei het tot ongekende ondersoeke na die maatskappy se komplekse struktuur en eienaarskap. Regeringsowerhede het HNA verbied om enige geld na die buiteland te skuif wat daartoe gelei het dat die maatskappy ontslae moes raak van bates wat hy onlangs bekom het.

Wang het 15% van die groep se aandele besit. Chen Feng, medestigter van HNA, besit ook na raming 15% aandele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.