Tory-triomf kan Britse politiek verander

Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Matt Dunham)

Die seismiese plate van die Britse politiek het oornag dramaties geskuif ná ʼn verkiesing wat Brittanje se premier, Boris Johnson, tereg as ʼn “politieke aardbewing” bestempel het.

Toe die laaste uitslag uiteindelik van die verre suidweste van die land, uit die kiesafdeling St. Ives (waar tellery ure lank vertraag is omdat stembusse van die afgeleë Scully-eilande weens die stormsee nie die telpunte kon bereik nie) het die Konserwatiewe Party (die Tories) 365 setels gehad, die Arbeidersparty 203, die Skotse Nasionalistiese Party 48, die Liberaal-Demokrate 11, die Groen Party 1 en ʼn bonte verskeidenheid kleiner partye uit veral Wallis en Noord-Ierland altesame 22.

Om dit padlangs te stel het Johnson se Tories maalvleis gemaak van hul opponente, en setels verower wat letterlik nog nooit vir die Konserwatiewe Party gestem het nie. In die proses is ʼn streep getrek deur die verdeling op grond van klas en inkomste wat die Britse politiek reeds sedert die Eerste Wêreldoorlog definieer.

Die grootste slagoffer van die Tory-sukses was die Arbeidersparty, wat sy swakste uitslag sedert 1935 behaal het. Gebiede wat sedert die Eerste Wêreldoorlog stoere Arbeidersparty-kiesafdelings was, het hierdie keer vir die Konserwatiewes gestem, veral in die industriële noordooste van die land, in die mynwerkershartland.

So byvoorbeeld is Dennis Skinner, wat reeds 49 jaar lank die mynwerkerskiesafdeling Bolsover verteenwoordig, uit die kussings gelig.

Die Konserwatiewe Party het hierdie nuwe aanwinste in die noorde van die land by hul totaal gevoeg sonder om setels in hul magsbasis aan die suide van die land af te staan. Selfs in Londen het dit bo verwagting goed vir die Tories afgeloop toe hulle byvoorbeeld Westminster, Kensington, Chelsea, Wimbledon, Finchley, Harrow en Uxbridge gewen het, hoewel die charismatiese Zac Goldsmith in Richmond Park uitgeval het en die Tories ook die knie moes buig in Twickenham.

Teen laatmiddag Vrydag het die politieke kenners nog kopgekrap oor die presiese oorsake van die potensieel epogmakende uitslae. Kiesers in die brandarm gebiede wat hul rug op die Arbeiders gedraai het, was egter taamlik duidelik oor die redes vir hul skuif.

Eerstens het die industriële werkersklas vir die Tories gestem omdat hulle ʼn duidelike standpunt ten gunste van Brexit (die afstigting van Brittanje uit die Europese Unie) gepredik het. Daarteenoor het die Arbeiders op die draad gesit oor die kwessie.

Jeremy Corbyn. Foto: (Joe Giddens/PA via AP)

Tweedens het die werkersklaskiesers dit duidelik gestel dat hulle sterker aanklank gevind het by die Tory-leier, Johnson, as by die Arbeidersparty se leier, Jeremy Corbyn, wat polities aan die linker-uithoek van die Arbeidersparty is en ʼn uiters stugge indruk wek, teenoor Johnson se meer ontspanne luim.

Derdens het baie kiesers in die industriële noorde van Engeland gevoel die Arbeidersparty kom nie sy beloftes na nie en het onder Corbyn (die eerste Arbeiderleier in 55 jaar wat ʼn verkiesing aanvoer terwyl hy ʼn Londense kiesafdeling eerder as ʼn Skotse of industriële kiesafdeling verteenwoordig) voeling verloor met die kiesers in die Arbeidersparty se hartland – die party het te links-intellektueel en Londen-gerig geword.

Die vraag waarop die antwoord eers in ʼn volgende verkiesing beantwoord sal kan word, is of die massiewe verandering ʼn eenmalige frats is, of ʼn aanduiding van ʼn nuwe era. Ondersteunend aan die frats-denkskool is Brexit en die merkwaardige ongewildheid van Corbyn. Teen die volgende verkiesing is Brexit straks nie meer so belangrik nie en het die Arbeiders dalk ʼn meer aanvaarbare leier.

Ondersteunend aan die nuwe era-argument is die omvang van die Tory-meerderheid en kiesers se verklaarde bereidheid om die Tories weer te steun as hulle hul woord gestand doen.

Maar dit was nie net die Konserwatiewe Party wat die Arbeiders laat les opsê het nie. Ook die Skotse Nasionaliste het gemaai onder die Arbeidersetels. Ook in hierdie geval was dit die Arbeiders se draadsittery oor Brexit wat hulle suur bekom het, maar om die teenoorgestelde rede – die Skotse werkersklas is baie sterk teen Brexit, en die Skotse Nasionaliste ook.

Nicola Sturgeon. Foto: (AP Photo/Scott Heppell)

Die leier van die Skotse Nasionaliste, Nicola Sturgeon, het dadelik aangedring op ʼn nuwe referendum oor onafhanklikheid vir Skotland, maar sy sal haar wens slegs vervul sien as die Tory-beheerde Britse parlement daartoe instem, wat tans onwaarskynlik lyk.

Vir die Liberaal-Demokrate was die uitslag kataklismies swak. Die party se leier, Jo Swinson, wat ewe min met die kiesers geresoneer het as Corbyn, het selfs haar setel, Dunbartonshire-Oos, verloor.

ʼn Ander geskiedkundige oomblik was in Noord-Ierland. Vir die eerste keer ooit het partye wat eenheid met die Republiek van Ierland voorstaan (soos Sinn Fein) meer setels gekry as die streng Protestantse voorstanders van voortgesette lidmaatskap van Brittanje.

Ook hier het Brexit ʼn rol gespeel – van die Noord-Ierse kiesers is sterk teen Brexit gekant, soos wat die Ierse nasionalistiese partye ook is.

Die Britse parlement van 650 lede word vir ʼn termyn van vyf jaar verkies, wat beteken Johnson het waarskynlik tot in 2024 ʼn volstrekte meerderheid van 80 setels oor die gesamentlike opposisie – die grootste Tory-meerderheid sedert Margaret Thatcher se oorwinning in 1987.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

André André ·

HIERDIE is nou positiewe nuus, selfs uit ‘n Suid Afrikaanse oogpunt gesien, mens kan jou ten minste daarmee vereenselwig en soos Trump vir Boris Johnson gelukwens.

Basjan ·

André André, positiewe nuus inderdaad! Die algemene publiek se oë het begin oopgaan en die liberale denkwyse is ‘n erge slag toegedien.

Akademi Buktu ·

Ek sien in Europa en die VSA ‘n politieke opstand teen die klomp neo-liberaliste wat die afgelope dekades hul lande se moraliteit en selfstandigheid ashoop toe begin dryf het.

André André ·

Basjan, en ek sien vanoggend op BizNews die Rand het ook gister kop opgetel na die uitslag in afwagting van vooruitsigte met een van ons groot handelsvennote.

Dolf ·

Die persoonlike gedrag van die regse leiers steek maar sleg af by die liberales. Dit sê ook nie veel van hul skynheilige volgelinge nie.

Willem Grobler ·

Wêreldwyd is die mense besig om gatvol te raak vir die liberalisme en die multikulturele lewens- en wêreldbeskouing wat daarmee gepaard gaan. Die aftakeling van nasionalisme en Christelike waardes is ook ‘n uitvloeisel daarvan. Maar soos dr Steve Turley sê: “A new conservative age is rising.” Goddank daarvoor!

Piet die Mamba ·

Oom Boris moet ‘n lekker bord pap, vleis en sous kry! Paar biere daarby!!

Derek ·

Hou nou die Skotte en die Iere dop. In die afgelope referendum het die meeste Skotte teen Brexit gestem; en die Iere is reeds duidelik ongelukkig oor die kunsmatige grens wat nou tussen hulle en Europa geskep moet word net om Brexit te maak werk. Boonop moet Boris nou eers oor die detail van ‘n Brexit ooreenkoms met Brussels begin onderhandel, en dit mag dalk toegewings vereis wat selfs in London ongewild gaan wees. Wie weet, dalk verwesenlik Brexit nie net die droom van meeste Engelse om van Europa afgesny te word nie, maar sal dit mettertyd ook lei tot ‘n onafhanklke Skotland en verenigde Ierland wat verkies om deel van die Europese Unie te bly. Ons leef in interessante tye, en ek sien met groot afwagting uit na die oomblik wanneer Westminster besef dat Europa nie ‘n eiland is nie.

Kerneels ·

Tog nie, die SNP het net 45% van die populêre stem in Skotland ontvang. Dis presies dieselfde as die Ja-stem in die onafhanklikheid referendum. ‘n Nuwe referendum sal weer wys dat die meeste Skotte binne die VK wil bly, al is hulle teen Brexit. Die Skotte ontvang goeie welsynsvoordele van die Engelse.

Ceef ·

Kerneels, en die Tories het ‘n skamele 25% gekry en Arbeiders 19% van die Skotse kiesers. SNP is by verre die grootste wenners. Arbeiders sou ‘n referendum ondersteun het indien hulle dit gevra het so baie Skotse Arbeiders het ook basies gestem vir onafhanklikheid. In die hele Brittanje is Tories se steun maar 44% wat minder as die helfte is…

Ceef ·

En buitendien is Skotland ‘n skatryk nasie. Hulle het nie welsynsvoordele van Brittanje nodig nie. Sal self die mas opkom…

Petrus ·

Vir elke £100 wat die Skotse regering verdien via belasting, word £130 spandeer, meestal vir sosiale dienste. Die Engelse finansier die verskil. Die VK se staatsbesteding per capita is 30% hoër in Skotland, vergeleke met die in Engeland. Indien die olieprys val het Skotland groot probleme. Op sy eie sal Skotland nie eers kwalifiseer vir EU lidmaatskap nie, tensy besteding drasties gesny word. Die Skotte sal nie daarvan hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.