Tot 10 000 dalk dood in Nepal-aardbewing

'n Gebou in Katmandoe wat tydens die aardbewing ineengestort het. Foto: AP Photo/ Niranjan Shrestha

‘n Gebou in Katmandoe wat tydens die aardbewing ineengestort het. Foto: AP Photo/ Niranjan Shrestha

Hoewel die amptelike dodetal in die Nepalese aardbewing nou reeds op meer as 4 300 staan, vrees die Nepalese premier, Sushil Koirala, dat die syfer tot 10 000 kan styg.

Dit sal dan Nepal se grootste ramp ooit wees. Volgens die VN is tot 8 miljoen mense deur die aardbewing geraak en het 1,4 miljoen mense voedselhulp nodig, berig AFP.

Intussen was daar vrae op die internet of daar ’n verband tussen die groot aardbewing in Nepal en die ligte aardskuddings is wat omtrent dieselfde tyd in Johannesburg gevoel is? En is daar ’n verband tussen die groot aardbewing en die vulkaanuitbarstings in die suide van Chili?

Maroela Media het ondersoek ingestel.

Om hierdie vrae te beantwoord, is dit nodig om die herkoms van die Nepalese aardbewing te verstaan. Die aardbewing het op ’n verskuiwingsvlak (fault line) plaasgevind waar die Indiese subkontinent weens kontinentale drywing teen die Euro-Asiatiese plaat druk. As gevolg van hierdie drukking het die Himalaja ontstaan en word steeds hoër. Dit word jaarliks 6,1 cm hoër ten spyte daarvan dat water- en gletsererosie daarvan wegkalwe.

Die Indiese subkontinent was oorspronklik deel van die superkontinent Gondwana, waarvan ook Afrika, Antarktika, Australië en Suid-Amerika deel was. Die Indiese subkontinent het veel vinniger as die ander dele beweeg en die Asiatiese plaat tussen 40 en 50 miljoen jaar gelede getref. Die Himalaja word as ’n jong bergreeks beskou, en die teenwoordigheid van die fossiele van seeskulpe hoog in die berge vertel ’n verhaal van hoe dit wat eens op die seebodem was, nou hoog in die berge ’n rusplek gevind het.

Ook die Andes is die gevolg van ’n botsing tussen die Suid-Amerikaanse plaat en die Stille Oseaan-plaat. Daar word die swaarder seebodem onder die landmassa ingedwing, waar dit smelt en gereelde vulkaanuitbarstings veroorsaak. Die gebied word ook deur veel meer sterk aardbewings geteister as die Himalaja. Die Stille Oseaan-plaat word feitlik omring deur wat die “ring van vuur” genoem word weens die talle aktiewe vulkane. Van die wêreld se grootste aardbewings vind ook hier plaas.

Die verskuiwende aardkorsplate is die gevolg van konveksiestrome waar die tektoniese plate as’t ware op voerbande heen en weer geskuif word. Hierdie konveksiestrome wek die aarde se magneetveld op, wat die aarde teen gevaarlike kosmiese bestraling beskerm.

Suid-Afrika behoort in beginsel nie maklik groot aardbewings soos die soort wat Nepal nou getref het, te beleef nie. Die Tulbagh-aardbewings was byvoorbeeld byna 100 keer ligter as die hoofaardbewing in Nepal, terwyl die Tulbagh-aardbewing weer ongeveer tien keer sterker was as die aardbewing by Orkney verlede jaar. Die verskuiwingsvlakke om Suider-Afrika is sowat 2 000 km van die kus, en alles beweeg boonop weg van ons af. Hoewel daar by hierdie verskuiwingsvlak redelik gereeld aardbewings voorkom, was hulle nog selde sterk.

Of daar ’n verband is tussen die Nepalese aardbewing en dié in Johannesburg? Aardbewings veroorsaak verskillende soorte golwe, waarvan sommiges deur die aarde trek, en ander langs die oppervlak trek. Seismografiese stasies kan deur die tydsverskil tussen oppervlakgolwe en golwe wat deur die aarde getrek het, die ligging en sterkte van aardbewings oor baie lang afstande bepaal.

In 1988 het die bekende baken in Namibië, die Vinger van God (Mukurob), tydens ’n windstorm omgeval. Omdat die ineenstorting se nuus mense bereik het omtrent dieselfde tyd as die groot Armeense aardbewing is gou bespiegel of daar ’n verband sou wees. Die rots het egter neergestort voor die aardbewing plaasgevind het, maar sommige kenners het gemeen as die gebeurtenisse omgeruil was, sou daar ’n verband kon wees.

Terwyl dit tegnies moontlik is dat die Nepalese skudding tot die Johannesburg-trillings kon bydra, moet in gedagte gehou word dat verskeie trillings ook in die weke voor die groot aardbewing in en om die Witwatersrand gevoel is.

Navorsing van die USGS het wel aangetoon dat sterk aardbewings binne ’n groot radius veroorsaak dat die San Andreas-verskuiwingsvlak vinniger beweeg. Omdat groot aardbewings dikwels in “vlae” voorkom, neem sommige geoloë aan dat sterk aardbewings se golwe net die hupstoot kan wees wat opgeboude spanning in verskuiwingsvlakke elders kan laat “losruk” en nog ’n groot aardbewing tot gevolg kan hê.

Maroela Media het onlangs berig oor hoe mensgemaakte olie-ontginningsprosesse daartoe kan lei dat oerverskuiwingsvlakke waarvan die mensdom niks weet nie, so versteur kan word dat dit aardbewings veroorsaak. Sommige van hierdie oerverskuiwingsvlakke is so oud dat hulle uit vorige fases van kontinentale drywing dateer. Hulle is latent, maar dit blyk dat daar tog spanning in van hulle kan opbou, en selfs groot aardbewings kan veroorsaak. Die naskokke van die huidige vlaag aardbewings in Oklahoma en omliggende state stel die wetenskaplikes juis nou in staat om hierdie verskuiwingsvlakke op te spoor en te bestudeer.

Terwyl dit goed bekend is dat veral groot aardbewings talle naskokke tot gevolg kan hê, is dit minder bekend dat voorafskokke soms ook ervaar word. Op 21 April, dus vier dae voor die grote, is Nepal deur ’n skudding van 5 op die momentmagnitudeskaal getref. Dit was ’n aansienlike afstand van die grote en sy talle naskokke af, en daar kan bloot bespiegel word of hierdie skudding dalk die grote, waar reeds baie spanning opgebou moes wees soos juis die talle naskokke van getuig, “losgeskud” het. Altesaam vier naskokke was M6 of meer – dus in die orde van die Tulbagh-hoofskudding.

Die Nepalese skudding was maar die vierde skudding vanjaar van M7 of meer, maar die sterkste en in die mees kwesbare gebied en het dus nou besonder baie lewens geëis.

USGS, Wikipedia

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Ek huldig die mening dat die Jhb. aardbewing toegeskryf kan word aan mynboubedrywighede maar wel aangehelp kan word deur trillings elders in die aardkors. Dit is egter ‘n uiters insiggewende skrywe Herman.
Wat ook vir my opvallend is van die Nepal-ramp is waar weereens die onmisbare gebruik van die helikopter na vore kom. Beslis een van die grootse uitvindsels wat ook veelsydigheid van gebruik betref.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.