Total verlaat Mosambiek-gasaanleg

’n Lugfoto van Total se gasaanleg in Afungi, dae voor die aanval in Palma. (Foto: Grant Lee Neuenburg / WFP / AFP)

Die Franse oliereus Total het alle bedrywighede by sy gasaanleg in die noorde van Mosambiek gestaak en al sy personeel onttrek ná die afgelope twee weke se gebeure in die stryd om die kusdorp Palma.

“Total is weg”, het ʼn veiligheidsbron in Maputo aan AFP gesê. “Dit sal moeilik wees om hulle te oorreed om terug te keer.”

’n Militêre bron het bevestig dat al Total se fasiliteite op die Afungi-skiereiland, ’n skamele 10 km van Palma, verlate is.

Volgens dié bron het die oliereus besluit om al sy personeel uit die land te verwyder nadat militante in gebiede “baie naby” aan die gasaanleg in Afungi opgemerk is met behulp van beeldmateriaal van hommeltuie.

ʼn Ander bron het bevestig dat militante nie ver van die gasaanleg is nie.

Total het reeds einde Desember sommige van sy personeellede onttrek en bouwerk opgeskort ná ʼn reeks gewelddadige aanvalle naby die aanleg. Die aanval op Palma sowat tien dae gelede word egter as die ergste nóg in die Islamitiese opstand beskryf wat sedert 2017 in die provinsie Cabo Delgado voortduur.

Talle oorlewendes het op 24 Maart uit hul huise gevlug in die rigting van die sterk beveiligde gasaanleg.

Sowat 15 000 mense het sedertdien naby die aanleg bymekaargekom met sommige wat steeds hier toevlug soek.

Chongo Vidigal, woordvoerder van die Mosambiekse weermag, het egter Donderdag gesê die gasaanleg word “beskerm” en daar is geen bedreiging nie.

“Ons is tans in die spesiale gebied in Afungi en het nog nooit ʼn terrorisme-bedreiging gehad nie,” het hy gesê.

Total het nie onmiddellik op AFP se versoek om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rudolph ·

Dit is wat gebeur wanneer ‘n regering sy burgers in die steek laat. As ek ‘n Mosambieker was wat in Cabo Delgado ‘n sukkel bestaan moet voer terwyl vreemdelinge en die regering ryk word uit die hulpbronne wat onder my grond is en ek geen aandeel daarin vir myself sien nie sal ek waarskynlik voor in die ry staan om by ‘n organisasie aan te sluit wat vir my ‘n stukkie geregtigheid kan gee

MakersMark ·

En Mosambiek bly een van die armste lande ter wêreld. Niks met “geregtigheid” uit te waai nie. Sonder westerse investering en tegnologie ontwikkeling sou daar ‘n kans gewees het op ontwikkeling ? Nee oor 50 jaar sou dit presies dieselfde gewees het as vandag.

Snowball ·

Ongelukkig, soos in te veel Afrika lande is korrupsie en onbevoegdheid uiteindelik so oorweldigend dat dit buitelanders verg om hulpbronne te ontgin en deur investering iets op die been te bring. Self rykdom skep en ontwikkeling teweegbring, bly steeds iets wat ontwyk en soos die geskiedenis van soveel lande in Afrika wys, sal dit vir nog baie, baie jare so bly.

Cherokee ·

Ek het dit gister raak gelees en niks gesê nie, maar vanmôre lyk dit steeds asof jy verskoning soek vir IS (wat vir jou ‘n ‘stukkie geregtigheid kan gee’) en dat jy selfs by hulle sou aansluit. Dit is die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word uit jou kommintaar. Dit laat die vraag oop of jy weet wie hulle is,

Charmain ·

Total moes net die gas aanleg opgeblaas het voordat hulle vort is…

Nicholaas ·

Weermag se woord voerder se die aanleg word goed bewaak,as hy wakker skrik moet hul ook hardloop.

Kokerboom ·

Afrika verdien NIKS!! Die Chinese sal soos sprinkane die continent oorspoel en Afrika se inwoners verswelg

Di ·

Iemand het weer n vinger in die pie hier! Sal my nie verbaas as China betrokke is nie.

akkedismis ·

Die plaaslike regering laat die inwoners inkomste verloor. SKANDELIK !!

Blikkies ·

“Chongo Vidigal”… woordvoerder van die Mosambiekse weermag…”Ons is tans in die spesiale gebied in Afungi en het nog nooit ʼn terrorisme-bedreiging gehad nie,” het hy gesê.
In watter Igloo bly die ou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.