Totsiens, Datsun! Nissan beëindig vervaardiging

(Foto: Datsun)

Die Japannese motorvervaardiger Nissan beëindig die vervaardiging van Datsun-voertuie, minder as ʼn dekade ná dié bekostigbare motor herleef het.

“Nissan fokus op kernmodelle en segmente wat die beste voordeel vir gebruikers, handelaars, vennote en die onderneming beteken,” het Nissan in ʼn verklaring gesê.

Die vervaardiging van die Datsun redi-GO word by die Chennai-aanleg opgeskort, alhoewel verkope van die motors, wat reeds gebou is, sal voortduur.

Die fasiliteit in Indië was die laaste een wat nog vir die handelsmerk werksaam was ná vervaardiging in Indonesië en Rusland opgeskort is.

Die maatskappy sê náverkope-diens en onderdele sal beskikbaar bly.

Nissan het in 1981 aanvanklik die Datsun-handelsmerk opgeskort, maar dit het in 2013 herleef deur die voormalige uitvoerende hoof Carlos Ghosn. Ghosn is egter in Japan in hegtenis geneem oor bewerings van finansiële wangedrag. Hy het na Lebanon gevlug en bly tot vandag ʼn internasionale voortvlugtige.

Datsun se tweede sterfte volg ná teleurstellende verkope en kom in ʼn tyd waar Nissan hom uit ʼn jare lange insakking probeer kry.

Datsun is vir die eerste keer in 1931 te koop aangebied en was in 190 lande beskikbaar. Die nuwe weergawe het ʼn baie kleiner voetspoor gehad met sowat 7 000 eenhede wat verlede jaar verkoop is, aldus Nissan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Ek het op ‘n tyd ‘n Go gekry toe ek ‘n motor gehuur het. Dit was nie ‘n slegte motor nie, maar miskien beter vir Nissan om net op Nissan te konsentreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.