Toyota vaar power oor uitlaatgasse

Argieffoto (Foto: Cicero7/Pixabay)

Een van die wêreld se grootste motorvervaardigers, Toyota, het gesamentlik met Stellantis in die laaste plek geëindig in ʼn ranglys vir pogings teen uitlaatgasse deur motormaatskappye. Dié lys is Woensdag tydens die Verenigde Nasies se Klimaatberaad (COP 26) gepubliseer.

Die groep het Toyota en die Amerikaans-Europese maatskappy Stellantis ʼn “F minus minus”-gradering gegee vir ontkolingspogings, insluitend die uitfasering van enjins wat fossielbrandstof gebruik ten gunste van elektriese voertuie.

Die vermindering van koolstofgasuitlatings in die verskaffingsketting en hergebruik of ontwikkeling van groener tegnologie vir motorbatterye is van die faktore wat in die verslag ondersoek word. ʼn Vergelyking is tussen tien groot motorvervaardigers getref.

General Motors het ʼn C minus-gradering ontvang, gevolg deur ʼn D vir Volkswagen en D- vir Renault.

Alle ander firmas, insluitend Ford, Honda en Hyundai-Kia, het ʼn F+ of F- ontvang.

“Toyota, die wêreld se voorste motorverkoper verlede jaar, is die hardkoppigste wat binnebrandmasjiene betref,” sê Ada Kong, senior projekbestuurder van die motorbedryfveldtog by Greenpeace Oos-Asië.

Toyota het in September gesê hy sal teen 2030 ongeveer 1,5 biljoen (“trillion”) yen belê in batterye vir elektriese en hibriede motors. Die maatskappy wou nie kommentaar lewer oor die verslag nie. Greenpeace maan motorvervaardigers om ten volle van elektriese voertuie gebruik te maak. “Sommige Japannese maatskappye, soos Toyota, is vol vertroue dat hibriede tegnologie ʼn doeltreffende alternatief is vir binnebrandmasjiene,” lui die verslag. “Werklike uitlaatgasvermindering en brandstofekonomie van hibriede voertuie is egter nie so goed as wat verwag is nie.” Volgens die verslag verminder hibriede voertuie uitlatings met slegs sowat ʼn derde, in vergelyking met petrol- of dieselmotors.

Greenpeace het gesê nie een van die 10 motormaatskappye het planne aangekondig om voor 2035 van binnebrandmasjiene ontslae te raak nie.

Wêreldleiers vergader vandeesweek in Glasgow as deel van die COP 26-klimaatberaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Wonder of hulle die batterye uit die grond “groei”.
Hulle gebruik seker nie steenkool-energie in die vervaardiging van die batterye nie. Greenpeace hoor ook die klok lui maar weet nie waar die bel hang nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.