‘Tragiese ongeluk’ oorsaak van vulstasie-ontploffing

(Foto: Burgemeester Derry Strabane/Twitter)

Tien mense is dood in ʼn ontploffing by ʼn vulstasie in die noordweste van Ierland. Die polisie het Saterdag gesê ʼn “tragiese ongeluk” was vermoedelik die oorsaak.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het Vrydag omstreeks 15:20 in Creeslough, Donegal plaasgevind.

Die Garda Síochána-polisiemag het gesê die 10 sterftes is vier mans, drie vroue, twee tieners – ʼn seun en ʼn meisie, en ʼn jonger meisie. Al die slagoffers was plaaslike inwoners.

Die dodetal sal waarskynlik nie verder verhoog nie, omdat daar nie meer enigiemand vermis word nie.

Die polisie hanteer die voorval “sonder vooroordele”, maar het gesê “ons inligting in hierdie stadium is dat dit ʼn tragiese ongeluk was”. Sodra die soek-en-reddingsoperasie afgehandel is, sal die oorsaak van die ontploffing verder ondersoek word.

Twee dubbelverdiepinghuise agter die vulstasie het ook ineengestort terwyl die voorste gedeelte van ʼn soortgelyke gebou langs die vulstasie ook verwoes is.

Inwoner Kieran Gallagher, wie se huis sowat 150 m van die toneel geleë is, het gesê die ontploffing het “soos ʼn bom” geklink. “Ek was in my huis en het die ontploffing gehoor. Ek het dadelik geweet dit is iets soos ʼn bom wat afgegaan het,” het hy aan die BBC gesê.

Tydens ʼn diens by ʼn plaaslike gemeente Saterdagoggend het vader John Joe Duffy gesê die gemeenskap is deur “ʼn tsoenami van hartseer” getref.

Die universiteitshospitaal, sowat 24 km van die toneel, is op gereedheidsgrondslag geplaas en het “verskeie beseerde persone” behandel.

Ierland se premier Micheál Martin het dit “ʼn baie donker dag” genoem. “Die omvang is baie groot. Dit is ʼn baie klein gemeenskap. Dit beteken dat byna elkeen iemand op ʼn vriendskaplike manier ken wat hul lewens verloor het. Dit is ʼn donker dag vir Donegal en vir Ierland.”

Hy het die nooddienspersoneel bedank wat deurnag gewerk het om na slagoffers te soek.

Landbouminister Charlie McConalogue, wat Donegal in die Ierse parlement verteenwoordig, het die tonele vergelyk met die gebeure tydens die dekadeslange konflik op die eiland oor die Britse beheer van Noord-Ierland. “Mense is geskok en lamgelaat,” het McConalogue aan die Ierse uitsaaier RTE gesê.

Creeslough is sowat 50 km van die grens met Noord-Ierland met sowat 400 inwoners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.