Treinmaatskappy beboet ná trein oor kat ry

Argieffoto (Foto: Erich Westendarp/Pixabay)

‘n Franse hof het Dinsdag die land se nasionale spoorwegoperateur skuldig bevind op aanklag van nalatigheid nadat ʼn treindrywer na bewering doelbewus oor ʼn kat gery het wat op die treinspoor weggekruip het.

Die voorval het in Januarie by Parys se Montparnasse-stasie plaasgevind. Dit het groot omstredenheid veroorsaak en Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, het gesê hy is “uiters geskok” oor die voorval.

Die Brigitte Bardot-stigting, ʼn diereregteorganisasie, wou by die spoorwegoperateur SNCF weet: “Kry julle nie skaam nie?”

Passasiers Georgia en haar 15-jarige dogter Melaina het gesê hul troeteldier Neko (wat “kat” in Japannees beteken) het uit sy reissak ontsnap en onder ʼn sneltrein verdwyn net toe die trein uit Parys na Bordeaux, in die suidweste van Frankryk, sou vertrek. Altesaam 800 passasiers was aan boord.

Die personeel het 20 minute lank tevergeefs gesukkel om die kat te lok om hom te red. Die trein het daarna vertrek en die kat is vrek.

“Ons het gesien hoe hy middeldeur gesny word,” het Melaina in daardie stadium aan die dieregteorganisasie 30 Million Friends gesê. “Hulle het gesê dit is nie hulle probleem nie; dit is net ʼn kat en ons moes hom aan ʼn leiband gehad het.”

SNCF het ʼn gratis kaartjie na Bordeaux vir die kat se eienaars aangebied as vergoeding.

Die diereregtevereniging het egter ʼn klag aanhangig gemaak vir “ernstige mishandeling en wreedheid wat tot die afsterwe van ʼn dier gelei het”.

Die klag kan ʼn boete van tot €75 000 (meer as R1,5 miljoen) tot gevolg hê met vyf jaar tronkstraf, maar in hierdie geval het die hof in Parys SNCF ʼn boete van €1 000 (sowat R20 000) opgelê vir “nalatigheid” en gesê die troeteldier se vrekte is “onvrywillig” veroorsaak.

Die uitspraak is teenstrydig met die aanbeveling van staatsaanklaers wat versoek het dat die operateur vrygespreek moet word.

SNCF se reisagentskap is beveel om ʼn verdere €1 000 in skadevergoeding te betaal aan elkeen van die troeteldier se twee eienaars.

Darmanin het ná die voorval aangekondig dat polisiebeamptes in 4 000 stasies reg oor die land opgelei sal word om te reageer op dieremishandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Robert ·

Ek stem saam Burt. Moes die trein nog wag totdat hulle eendag die kat kon vang?? Die eienaar is verantwoordelik!!!

Sue ·

Hoera Vir die diere regte vereniging! Dierenmishandeling is onaanvaardbaar.

Lillian ·

Dis wreed maar ek stem saam, die kat moes aan ‘n leiband gewees het. Hy was duidelik verbouereerd en bang.

Andries ·

Dis vreeslik. Arme kat. Ek dink nie dis regverdig om die treinoperateur te beboet nie.

My siening ·

Mense wat diere aanhou moet verantwoordelik gehou word vir los lonende diere. Daars oral wette teen diere wat los loop so kla hul aan want nou wil hulle huil en jannie jamer gat speel. Ek is net so lief vir my ryke voël lewe in my perseel maar die katte maai onder hulle so wie is nou verantwoordelik vir die voëltjies?

Natasha ·

Vir baie mense is diere hulle kinders en net so kosbaar. Kyk maar hoeveel hofsake is daar oor toesig van dierekinders tydens egskeidings. Ek dink dis reg dat hulle beboet word, want wat as dit ‘n kleuter was? Kleuters is net so vinnig om los te ruk en weg te hardloop. Die mensdom het koud en ongevoellig begin raak en dink net aan die eie ek in plaas van om ander mense en hulle gevoelens ook in ag te neem. Onthou ons weet nooit wat in ander se lewens aangaan nie en daai katjie kon dalk baie meer sentimentele waarde gehad het as wat ons weet.

bolletjie blom ·

Dit is nou nie juis of die trein drywer kon uitswaai vir die kat nie.

Martie Smartie ·

Dis duidelik uit di eberig dat hy gewag het dat hulle di ekat onder die trein uitkry. En toe dit nie gebeur nie, besluit het om bo-oor die kat te ry. Dis bietjie gevoelloos sou ek dink

Kattebol ·

Ek is so bly oor daai boete. ‘n Land se wette oor diere weerspieël hulle integriteit. Mooi so, Frankryk!

Ronel ·

Ek is 100% vir diereregte, maar ek voel ook die eienaars van die kat moes beter voorsorg getref het. Hulle is verseker bydraend nalatig.

kommentaar ·

Dis is erg genoeg, maar ek stem saam, die eienaar moes die katjie aan n band gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.