Treinongeluk eis lewe van 34; talle beseer

Inwoners van nabygeleë dorpe was ná die ongeluk eerste op die toneel om te help (Foto: Shahid Ali, AFP)

Altesaam 34 mense is dood en tientalle beseer toe ʼn passasierstrein teen ’n stilstaande trein in Pakistan gebots het. Die stilstaande trein het vroeër die dag ontspoor en van sy waens het op die ander spoor te lande gekom.

Die ongeluk het in ’n afgeleë gebied digby die stad Daharki plaasgevind. Die passasierstrein was op pad van Rawalpindi toe dit teen van die waens van die stilstaande trein, op pad van Karatsji na Sargodha gebots het.

Minstens ses waens is in die ongeluk vernietig.

Inwoners van nabygeleë dorpe was ná die ongeluk eerste op die toneel. Beeldmateriaal wat deur plaaslike media beskikbaar gestel is, wys hoe dié mense rondom die treinwrak saamdrom. Van hulle het bo-op die wrak geklim in ʼn poging om van die oorlewendes te red.

Die Pakistanse weermag en paramilitêre veldwagters is ook na die toneel ontbied om met die reddingspoging te help (Foto: AFP)

Noodwerkers het daarna opgedaag en die beseerde passasiers uit die treinwaens bevry. In beeldmateriaal kan gesien word hoe paramedici vir ’n bewustelose passasier, wat in een van die waens vasgekeer was, ’n drip gee.

Die Pakistanse weermag en paramilitêre veldwagters is ook na die toneel ontbied om met die reddingspoging te help.

Premier Imran Khan het sy skok oor die ongeluk uitgespreek. Hy het op Twitter geskryf dat die ongeluk volledig ondersoek sal word.

Spoorongelukke kom algemeen in Pakistan voor omdat die spoorwegnetwerk oor dekades heen begin agteruitgaan het weens korrupsie, wanbestuur en gebrek aan beleggers.

In Oktober 2019 is minstens 75 mense dood toe ʼn trein op pad van Karatsji na Rawalpindi aan die brand geslaan het.

Meer as 300 mense is in 1990 dood en 700 beseer toe ʼn oorlaaide trein met 16 waens in ʼn stilstaande goederetrein naby die stad Sukkur vasgery het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miskruier ·

Klink maar dieselfde gebeur in RSA korrupsie en verval.

Surfer ·

Hulle het darem nog trein waens, hier brand ons dit uit voor ongelukke kan gebeur. SA een groot ongeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.