Trekkers terug in Brussel terwyl samesprekings voortduur

(Foto: Thomas Coex/AFP)

Honderde trekkers was Maandag weer in die strate van Brussel te sien terwyl Europese ministers met samesprekings besig was oor die verslapping of aanpassing van landbou- en omgewingsmaatreëls wat menige EU-boere die hoenders in het.

Volgens die polisie het sowat 900 trekkers vir ʼn tweede keer dié maand naby die Europese Unie se hoofkantoor saamgedrom. Polisiebeamptes het waterkanonne afgevuur terwyl boere bande gebrand en vuurwerk in die strate geskiet het.

Betogings het al in Maart verlede jaar begin toe boere van Vlaandere in opstand gekom het oor die regering se planne om stikstofuitlatings van kunsmis en vee te beperk.

Die vervaardiging en gebruik van stikstof-kunsmis en vee-afval genereer kweekhuisgasuitlatings wat klimaatsverandering kan bevorder.

Die landboubedryf hou vol dat dit te diep getref sal word deur die besluite en sommige plase, wat volgens die regering te veel besoedeling veroorsaak, sal gesluit moet word.

Boere van Spanje, Portugal en Italië het by hul Belgiese eweknieë aangesluit vir die jongste magsvertoning.

Benewens uitdagings wat boere in Brussel ondervind, kom al hoe meer Europese boere in opstand oor laer voedselpryse, stygende heffings vir boere, hoër brandstofpryse en ander omgewingsbeskermingsreëls wat volgens hulle onaanvaarbaar is.

Duisende Spaanse boere het Maandag ook buite die landboudepartement in sentraal-Madrid betoog en plakkate vasgehou met bewoording soos:

“Die platteland is op die afgrond en die regering gee nie om nie.”

Maria Villoslada Garcia, ʼn 43-jarige wynboer van Noord-Spanje, het aan AFP gesê dat hulle op dringende oplossings van die Spaanse regering en EU wag. Sy meen boere “versmoor” omdat hul uitsette baie meer as hul inkomste is.

Victor Iglesias, ʼn 24-jarige graanboer van sentraal-Spanje, sê daar is al hoe minder jong boere omdat dit eenvoudig te duur geword het om te boer.

EU-ministers het Maandag byeengekom om voorstelle te ondersoek vir die vereenvoudiging van die groep se gemeenskaplike landboubeleid (GLB) in pogings om gemoedere te kalmeer.

“Ons het iets prakties nodig, iets operasioneel,” het Frankryk se landbouminister, Marc Fesneau, aan verslaggewers van AFP gesê.

Terwyl hy aangevoer het dat daar ruimte is vir aanpassings “binne die huidige reëls”, is veranderings van wetgewing nodig om aan sekere eise te voldoen.

“Of dit voor of ná die Europese verkiesings gebeur, maak nie saak nie. Wat saak maak, is om vorentoe te beweeg.”

“Ons moet ʼn doelwit stel en die grondslag lê van ʼn gemeenskaplike landboubeleid wat mense gerusstel.”

Die voorstelle deur die Europese Kommissie sal sommige omgewingsbeperkings vir boere verslap, insluitend die verligting van eise vir voormalige veeboere om hul grond in grasvelde te omskep.

Die kommissie beoog ook om administrasie te vereenvoudig en die manier waarop inspeksies werk te verander, in ʼn poging om die aantal plaasbesoeke met 50% te verminder.

Verskeie ander maatreëls, waaronder invoermaatreëls, kan moontlik ook verslap, verleng of aangepas word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.