Trekpas vir Spele-komponis wat gestremdes afknou

Olimpiese Spele (Foto: Behrouz Mehri/AFP)

ʼn Komponis wat betrokke is by die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, het Maandag bedank nadat ou onderhoude waarin hy beskryf hoe hy gestremde klasmaats geboelie het, ʼn herrie ontketen het.

Die eksperimentele musikant Keigo Oyamada, bekend as Cornelius, is die middelpunt van die jongste skandaal om die Spele te tref, slegs vier dae voor die opening van die 2021 Spele.

Oyamada se bedanking volg nadat verskeie sleutelamptenare van dié Spele, insluitend die voormalige hooforganiseerder, Yoshiro Mori, oor seksistiese aanmerkings bedank het.

“Ek het my bedanking aan die organiseerders oorhandig,” het Oyamada in ʼn verklaring op Twitter gesê.

“Ek is bitter spyt oor my destydse onvolwassenheid. Ek vra opreg om verskoning,” het hy gesê.

Nadat die nuus van sy betrokkenheid by die musiek vir die seremonie aanlyn begin sirkuleer het, het onderhoude van Oyamada in die mid-1990’s terselfdertyd versprei. In dié onderhoude het hy klaarblyklik sonder enige berou, erken dat hy sy skoolmaats met gestremdhede geboelie het.

Oyamada se optrede en aanmerkings het woede aanlyn veroorsaak. Spele-organiseerders het die naweek gesê hulle was nie bewus van die aanmerkings nie en dat dit “onvanpas” is.

Die skandaal is net een van die jongste personeel-kopsere vir die organiseerders, wat reeds ʼn storm oor die bedanking van hulle voormalige baas, Mori, trotseer het.

Die kreatiewe regisseur vir die opening- en afsluitingseremonies, Hiroshi Sakaki, het in Maart ook gekies om te bedank nadat hy voorgestel het dat ʼn mollige vrouekomediant in die gedaante van ʼn vark haar opwagting moet maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JJB ·

Wat van die christelike beginsel van vergiffenis? Die liberales is kwansuis so sag en akkomoderend, maar verstaan blykbaar nie die beginsel van vergeet en vergewe nie… Was ons almal nie maar dwaas toe ons jonk was nie? Ek dink aan Jesus se woorde “laat die een van julle wie se gewete skoon is die eerste klip gooi…”

Elinette ·

China is ‘n oorwegend nie-Christelike, kommunistiese land. Net so ter inligting.

Jdb ·

Net ter inligting- die spele word in Japan gehou, nie China nie!

Anel ·

O, die wêreld is siek, maar ook snaaks. Wat het iets wat 30 jaar terug gebeur het en die ou n kind was, met vandag te doen?

SwartBees ·

Wil ek ook graag weet. Ons almal het dom goed gedoen toe ons jonk was.

Elinette ·

Ja-nee, party mense KLEEF eenvoudig aan die verlede ……….

Mieke ·

Ai! Die stomme foute van ‘n mens se jeug!!! Het ons maar nie almal op ‘n tyd erg drooggemaak nie?!!!

Louise ·

Ja ons het :D As al my foute my vandag moet agtervolg sal dit ‘n vreeslike prentjie wees. LOL :D

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.