Troepe ontplooi; TikTok verbied in Nieu-Kaledonië-onluste

TikTok is verbied omdat oproeriges daarvan gebruik maak. (Foto: X)

Frankryk het troepe by Nieu-Kaledonië se hawens en internasionale lughawe ontplooi, TikTok verbied en Donderdag ʼn noodtoestand ingestel ná drie nagte van onluste waartydens vier mense dood en honderde gewond is. Nieu-Kaledonië is ʼn eilandgroep in die Stille Oseaan wat Franse grondgebied is.

Pro-onafhanklikheid ondersteuners betoog teen ʼn Franse plan om nuwe verkiesingsreëls vir die land in te stel. Die betogings het tot die dodelikste geweld sedert die 1980’s gelei. ʼn Polisiebeampte is een van verskeie mense wat doodgeskiet is.

Groot deurpaaie is besaai met rommel wat tydens die onluste gestrooi is.

Pantservoertuie het die stad se strate, gewoonlik stampvol met toeriste, gepatrolleer.

Vreesbevange inwoners het met stukke hout, kruiwaens, katels, plastiekkanne, boomtakke en stukke heinings tydelike padblokkades opgerig.

As deel van die Franse se reaksie op die oproer het veiligheidsmagte vyf vermeende hoofleiers in huisarres geplaas, lui ʼn verklaring van die hoë kommissaris wat die Franse staat in Nieu-Kaledonië verteenwoordig.

Deur-tot-deur-soektogte sal volg.

Meer as 200 “oproeriges” is in hegtenis geneem sedert die onluste uitgebreek het, het die hoë kommissaris gesê. Honderde mense, insluitend 64 polisielede, is gewond.

Franse owerhede het ʼn derde aand van “botsings” aangemeld, hoewel AFP-korrespondente in die strate van die hoofstad, Noumea, meen dit lyk rustiger as vorige aande.

Inwoners in sommige van die woonbuurte het op tuinstoele gesit, versperrings beman en wit vlae gehys, ʼn simbool van hul voorneme om vreedsaam oor die strate te waak.

Kosrakke leeggedra

Mense het in die puin van afgebrande winkels rakke geplunder.

“Ons het net gegryp wat daar in die winkels was om te eet. Binnekort gaan daar nie meer winkels wees nie,” het ʼn vrou in ʼn voorstad van die hoofstad gesê.

“Ons het melk vir die kinders nodig. Ek sien dit nie as plundering nie,” het sy aan AFP gesê.

Frankryk beoog om binnekort meer troepe en polisiebeamptes te ontplooi en noodsaaklike voorraad vir inwoners in te bring.

Emmanuel Macron, die Franse president, het aangebied om Donderdag samesprekings met Nieu-Kaledoniese wetgewers te voer en het gevra dat politieke dialoog voortgesit word.

Gabriel Attal, die Franse premier, het op ʼn krisisbestuursvergadering gesê troepe is ontplooi om hawens en die internasionale lughawe, waar kommersiële vlugte opgeskort is, te beveilig.

TikTok verbied

TikTok is verbied omdat oproeriges daarvan gebruik maak, het Attal gesê. Teen Donderdagoggend kon AFP minder as 20 rekeninge op die platform identifiseer wat verband hou met die geweld.

Nieu-Kaledonië, geleë tussen Australië en Fidji, is een van verskeie gebiede wêreldwyd wat steeds onder Franse beheer is. Die gebied het drie keer tevore onafhanklikheid in referendums verwerp, hoewel daar steeds steun daarvoor onder veral die Kanak-inwoners is.

Hul voorouers woon al duisende jare op die eilande.

Die noodtoestand wat ingestel is, stel owerhede in staat om ʼn reisverbod, huisarres en deursoekings af te dwing. ʼn Aandklokreël is ingestel, byeenkomste opgeskort, die dra van vuurwapens verbied en die verkoop van alkohol is gestaak.

Byna 1 800 wetstoepassers is ontplooi en nog 500 sal binnekort by hulle aansluit.

Brandstigting en onluste

Terwyl mense die strate ingevaar het, het Frankryk se nasionale vergadering Dinsdag gestem om inwoners wat al tien jaar in Nieu-Kaledonië woon, toe te laat om te stem. Die hervorming moet steeds deur ʼn gesamentlike sitting van albei huise van die Franse parlement goedgekeur word.

Pro-onafhanklikheidsmagte sê dit sal Kanak-mense se stem verdeel. Hulle verteenwoordig sowat 41% van die bevolking.

Diegene wat die hervorming steun, voer aan kieserslyste is in 1998 laas bygewerk en dit ontneem die eiland se inwoners wat daarna aangekom het, van ʼn stem.

Macron het gesê Franse wetgewers sal stem om die grondwetlike verandering teen einde Junie te aanvaar, tensy Nieu-Kaledonië se opponerende partye tot ʼn vergelyk kan kom.

Pro- en anti-onafhanklikheidspartye het in ʼn gemeenskaplike verklaring gevra vir die terugkeer van “kalmte en vrede” en sê hulle is “bestem om naas mekaar te leef”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Goldy ·

Hierdie is belangrike en relevante nuus vir ons, want hulle Franse minderheid is waar ons in die 80s en 90s was. Hulle kan maar begin voorberei vir wat onss intussen deurgaan naamlik verwerping van hul regte, enorme misdaad, regstellende aksie, werkloosheid, armoede, verval van alle dienste, emmigrasie.

Goldy ·

En plaasonteiening, seel van belasting en pensioen, al daardie dinge. Hulle mense het darm opsie om terug te gaan Frankryk toe wat ons nie het nie. End van die lamd in sig.

Manie ·

Bykans 17000 km weg vanaf Frankryk en die Franse wil nog beheer hê daaroor?

Goldy ·

Ja Manie, dit is ook die enigste beskaafde land in daardie area. Nie,and wil op n misbol leef nie, dis waarom al die eilande rondom se mense Frankryk toe emmigreer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.