Trokdrywer vra om verskoning ná Taiwan-treinongeluk

Trein ontspoor in Taiwan (Foto: Taiwan Rooikruis/Facebook)

Die bestuurder van die spoorweginstandhoudingsvoertuig wat bo ’n treinspoor in Taiwan teen ’n skuinste af gegly en die ergste spoorwegvoorval in dié land in dekades veroorsaak het, het nou om verskoning gevra.

Maroela Media het vroeër berig minstens 51 mense is Vrydag dood en meer as 200 beseer toe ’n volgepakte trein in ’n tonnel ontspoor het nadat die instandhoudingsvoertuig dit getref het. Sowat 480 passasiers was per trein op pad na die ooskus vir die jaarlikse Qingming-fees, ’n vier dag lange vakansienaweek.

Die owerhede probeer sedertdien vasstel of die bestuurder van die voertuig nie die handrem styf genoeg getrek het nie en of dit moontlik aan ’n meganiese fout toegeskryf kan word.

’n Emosionele Lee Yi-hsiang, die bestuurder van die voertuig, het Sondag ’n verskoning voor verslaggewers voorgelees.

“Ek het innige berou en wil my opregte verskoning betuig. Ek sal saamwerk met die polisie en aanklaers se ondersoek en verantwoordelikheid neem.”

Lee (49) was deel van ’n span wat gereeld die bergagtige oostelike treinspoor van Taiwan nagaan vir grondverskuiwings en ander risiko’s. Hy is die naweek deur aanklaers ondervra en op borgtog vrygelaat hangende verdere ondersoeke.

Die Taiwannese media het egter Sondag berig dat hy weer in hegtenis geneem is omdat hy as ’n vlugrisiko beskou word en dat hy vroeër skuldig bevind is aan vervalsing.

Die owerhede probeer intussen ook vasstel of die treinbestuurder, onder diegene wat gesterf het, van die trein se noodrem gebruik kon maak in ’n poging om die botsing te verhoed. Sommige passasiers wat die voorval oorleef het, het ’n toeter voor die trefslag gehoor wat daarop dui dat hy die voertuig voor die botsing op die spoorlyn gewaar het.

“Daar word geglo dat die treindrywer hoogstens tien sekondes gehad het om te reageer en dat daar nie genoeg afstand was om ’n noodstop te kon uitvoer nie,” sê Hong Young, voorsitter van die Taiwan Transportation Safety Board.

Volgens sommige oorlewendes het dit nie gelyk of die trein spoed verminder het voordat dit die vragmotor getref het nie.

Hong sê egter dat ander voor die botsing ’n gewelddadige trilling opgemerk het, wat daarop dui dat die treinbestuurder die noodrem oomblikke voor die botsing kon getrek het.

Vrae word intussen gevra rakende die aantal passasiers op die trein en waarom daar nie heinings langs daardie spesifieke deel van die treinspoor was nie.

Lin Chia-lung, minister van vervoer, het Sondag te midde van dié vrae aangebied om te bedank hoewel die regering nie sy bedanking aanvaar het nie. Die regering wag op die uitslae van die ondersoek voordat enige besluite geneem sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eltan ·

Interessant om te sien dat hierdie mense nog trots het…hulle aanvaar hulle het n fout begaan, berou daaroor en is bereid om uit te tree,maar hier by ons is dit net lie lie, lie and deny so ver hulle plunder…geen verandwoording, geen trots, terwyl als om hulle in duie stort…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.