Tronkstraf verleng vir R Kelly, Harvey Weinstein; Alec Baldwin pleit onskuldig

Alec Baldwin (Foto: Mark Sagliocco/Getty images North America/AFP)

R Kelly se 30 jaar lange tronkstraf is verleng, Harvey Weinstein kry nog 16 jaar in die tronk en Alec Baldwin pleit onskuldig op strafbare manslag.

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste verwikkelinge in dié drie Hollywood-hofsake.

Alec Baldwin pleit onskuldig

Alec Baldwin het onskuldig gepleit op die aanklag van onwillekeurige manslag wat teen hom aanhangig gemaak is ná die dood van ʼn kinematograaf op die stel van die rolprent Rust.

Dié 64-jarige akteur sou vandag (24 Februarie) in die hof verskyn het.

Baldwin het in Oktober 2021 ʼn Colt-vuurwapen tydens ʼn kleedrepetisie vir Rust vasgehou toe ʼn skoot afgevuur en die 42-jarige Halyna Hutchins noodlottig gewond is. Die voorval het op die stel buite Sante Fe in Nieu-Mexiko plaasgevind. Die regisseur van die fliek, Joel Souza, is ook tydens die voorval beseer.

Hannah Gutierrez-Reed, wat verantwoordelik was vir die vuurwapen op die stel, gaan ook aangekla word.

Dave Halls, assistent-regisseur wat die wapen aan Baldwin oorhandig en vir hom gesê het dit is nie gelaai nie, het ingestem om skuldig te pleit op aanklag van die nalatige gebruik van ʼn dodelike wapen. Hy sal ʼn opgeskorte vonnis ontvang en ʼn ses maande lange proeftydperk moet uitdien.

Die voorval het skokgolwe deur Hollywood gestuur en gelei tot oproepe vir ʼn algehele verbod op regte vuurwapens op filmstelle.

Baldwin het verlede jaar ʼn onbekende skikking met Hutchins se familie bereik.

Daar is ook destyds aangekondig dat die produksie van die fliek vanjaar weer hervat sou word.

R. Kelly se tronkstraf verleng

Die kletsrymer, R Kelly, is ʼn ekstra jaar tronkstraf opgelê vir die besit en vervaardiging van kinderpornografie.

R Kelly (Foto: Victor Hilitski/Chicago Sun-Times via AP)

Kelly is in September 2022 skuldig bevind aan die klag dat hy kinderpornografie van drie minderjariges gemaak het. Die skuldigbevinding dui aan dat hy deel van dié pornografie was en dat een van die slagoffers sy 14-jarige peetkind was.

Hy is in Junie 2022 tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy vroue en kinders gelok het om hulle eindelik seksueel te misbruik.

Kelly, wie se regte naam Robert Sylvester Kelly is, is in September 2021 op nege aanklagte, waaronder rampokkery en sekshandel, skuldig bevind.

Indien Kelly sy vonnis ten volle uitdien, sal hy in sy 80’s wees wanneer hy uiteindelik vrygelaat word.

Nog 16 jaar vir Harvey Weinstein

Harvey Weinstein in Oktober 2022. (Foto: Ettiene Laurent / Pool/AFP)

Die voormalige rolprentvervaardiger, Harvey Weinstein, is Donderdag 16 jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting van ʼn vrou ʼn dekade gelede.

Harvey dien tans reeds ʼn 23 jaar lange vonnis uit vir aanklagte van seksuele wangedrag waaraan hy in 2020 skuldig bevind is.

Die 70-jarige het reeds teen albei bevindings geappelleer.

Bykomende bronne: NPR

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.