Tropiese storm eis drie

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die tropiese storm Elsa het Sondag Jamaika en Kuba met sterk winde en reën geteister nadat dit die vorige dag minstens drie lewens in die Karibiese Eilande geëis het.

ʼn 15-jarige seun is Saterdag oorlede nadat ʼn muur naby Bahoruco aan die suidkus van die Dominikaanse Republiek ineengestort het. Volgens die streek se nooddienssentrum het ʼn 75-jarige vrou in Bani ʼn soortgelyke lot oorgekom.

ʼn Derde persoon is in Soufriere op die eiland Santa Lucia dood, maar verdere besonderhede is nog nie bekend gemaak nie.

Sterk winde het tot wydverspreide elektrisiteit- en wateronderbrekings in die Karibiese Eilande gelei en honderde huise is intussen in Barbados beskadig.

Die storm is aanvanklik as die eerste orkaan van die seisoen bestempel, maar is later tot tropiese stormstatus afgegradeer.

Volgens die Amerikaanse nasionale orkaansentrum (NHC) sal die storm binnekort ander gebiede in Kuba en die Florida Keys in Amerika bereik met ʼn windsnelheid van sowat 95 km per uur.

“Die storm kan moontlik verswak namate dit oor Kuba beweeg, maar sal dan weer versterk namate dit oor die Golf van Meksiko na Florida toe beweeg,” het die NHC gesê.

Inwoners kan oorstromings, modderstortings en skadelike rukwinde verwag met tot 15 cm reënval in geïsoleerde gebiede.

Intussen is die woonstelblok wat op 24 Junie in Surfside, Florida, ineengestort het tydens ʼn beheerde ontploffing gesloop. Maroela Media het vroeër berig dat die 12 verdieping hoë Champlain Towers South-gebou in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort het. Minstens 16 mense is intussen dood en nog 147 mense is vermis. Owerhede het Sondag die oorblywende gedeelte van die gebou gesloop om verdere skade deur storm Elsa te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.